Om vir ‘n groot sportspan te speel moet jy
spesiale talente hê. Wanneer dit egter by
Christenskap kom, is almal deel van God se
spesiale span. Almal wat glo in Jesus Christus
as Verlosser, en Hom volg as Here, en die
Drie-Enige God aanbid. Hier het jy nie ‘n klomp
spesiale talente nodig nie. Dit is ook nie op grond
van jou eie talente nie, maar op grond van Iemand
anders wat ons deel uitmaak van die spesiale span.
1 Johannes 2:27 vertaal dit so: “Wat julle betref:
julle het iets van Jesus gekry wat julle lewe totaal
verander: sy Gees het by julle kom bly. So het Hy
julle in sy spesiale span vir hierdie wêreld gesit.”
Dit is die wonderlikste nuus en wete! Ons is reeds
in Jesus Christus se wenspan met Hom as die
Oorwinnaar! En ons kon niks self verdien om in
hierdie span te wees nie. Alles is net genade!
Moontlik gemaak deur die Heilige Gees wat in ons
werk en in ons woon! Die bogenoemde vers sê dat
ons totaal en al verander het. Ons kan nie meer
soos die wêreld lyk nie. Die Heilige Gees verander
ons totaal! Dit kan nie meer wees soos die prentjies
in tydskrifte wat sê “soek die verskille” nie.
Ons moet regtig totaal anders lyk as die wêreld.
Mense moet nie verskille soek om dit raak te sien nie.
Dit moet ooglopend wees dat ons kinders van God is.
Volgelinge van Jesus. Mense in wie die Gees woon en
werk. Lees God se Woord, bring tyd saam met Hom deur
in gebed, sodat jy anders kan dink en droom en leef!
Vers 27 sê ons is in Jesus se spesiale span, en vers 27
sê ook verder: “Hy wil hê julle moet spesiale dinge vir
Hom doen.” Ons lewe het totaal verander. Ons leef nou
anders. Wat ons ookal doen, doen ons nou van harte
vir die Here! God gee vir ons alles wat ons nodig het
om ons “posisie” in die span vol te staan.
Ons moet opnuut ontdek dat ons spesiaal deur God
gekies is! Verkies is. Uitverkies is!
Gaan vervul jou rol as spesiale mens in God se oë,
in die spesiale span van God, deur die Gees wat in jou
woon en deur jou werk! Gaan lééf voluit vir God!
Ernest