Tussen ‘n blinde persoon en sy gids-hond is daar
‘n besondere verhouding. Sonder om op en af te
spring, sonder om aanhoudend te blaf, stap die
hond rustig en in stilte en dui vir die blinde persoon
die pad aan. Wanneer gevaar dreig beur die hond
weg en lei die blinde na veiligheid. Soms moet die
hond dalk ‘n pluk of twee gee. Maar hierdie
kommunikasie en vertroue tussen die blinde en sy
gids-hond kan nie daar wees as daar nie ‘n hegte
verhouding tussen hulle is nie. Hulle ken mekaar
en leef saam. So lei die gidshond die blinde deur
sy “duisternis”.

Die Heilige Gees is ook ons gids.
Die Boodskap vertaal 1 Johannes 2:27 soos volg:
“Die Heilige Gees is julle onderwyser en gids in alles
wat waar is. Julle kan Hom maar glo, want Hy lieg nie.
Steur julle daarom aan niks en niemand anders nie,
behalwe aan die Gees en wat Hy julle geleer het.”

Tussen ons en die Heilige Gees moet daar ‘n intieme
verhouding van vertroue en kommunikasie wees.
Ons moet die Heilige Gees volkome vertrou in alles.
Die Gees woon in ons, en wil ons lewe lei en beheer
soos ‘n gids ons deur die donker sou lei. Ons moet
doelbewus ingestel wees op die Heilige Gees om sy
leiding te hoor en te “sien”.

Luister na die Gees. Die wêreld om ons is dikwels
‘n oorverdowende gesuis in ons ore. Hierdie geraas
van die wêreld kan ons doof maak om die Gees se
stem te hoor. Ons moet doelbewus ingestel wees op
die frekwensie van die Heilige Gees. Hý doen dit.
Hy stel ons in as ons doelbewus ons lewe onder sy
beheer plaas. En Hy lei ons dan in die waarheid.

Gee jouself vandag en elke dag volkome oor aan die
Heilige Gees. Doelbewus. Sodat Hy jou instem om sy
stem te hoor te midde van die geraas rondom jou.
Sodat Hy jou gids kan wees in ‘n wêreld wat dikwels
in die duister is.

Ernest