Ons het in 1 Johannes 2:27 gesien dat die Heilige Gees
ons gids is wat ons lei in die waarheid, deur die donkerte
wat ons dikwels ondervind in hierdie wêreld.
Soos ‘n gidshond ‘n blinde in die donkerte “laat sien”,
so help die Heilige Gees ons ook om diie pad te vind
waarop God wil hê ons moet loop. Ons weet dat ons
dikwels toelaat dat die gedruis en die gesuis van die
wêreld se geraas rondom ons so oorneem in ons lewe,
dat ons moeilik die stem van die Heilige Gees hoor.
Die Here weet dit en verstaan dit, en kom gee dan vir ons
hierdie raad van onskatbare ware in 1 Johannes 2:28:
“My liewe kinders, konsentreer nou daarop om baie naby
aan Jesus te bly leef.” So eenvoudig en lewe-gewend!
Ons moet elke dag by die Here en saam met die Here leef
in hierdie wêreld. Met ‘n menslike beeld so gestel:
leef soos Jesus se skaduwee by Hom. Heeltyd saam met
Hom in die lig.
Ons is eintlik nog baie nader aan Jesus as sy skaduwee.
1 Johannes 2:27 se laaste deel sê: “Ja, soos Hy, die
Heilige Gees, julle geleer het, moet julle in die Seun bly”!
Ons in Hom en Hy in ons! In Johannes 15:4 sê die Here
Jesus self hierdie uiters belangrike woorde:
“Julle moet in My bly en Ek in julle...” en vers 5:
“...Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte,
want sonder My kan julle niks doen nie.”
Wat beteken dit in die werklikheid van my lewe?
Paulus het iets hiervan vir ons prakties verduidelik met
hierdie woorde in Efesiërs 5:10: “Vra julle voortdurend af
of iets vir die Here aanneemlik is.” En ook met Efesiërs 5:15:
“Wees baie versigtig hoe julle lewe...” en vers 16:
“Maak die beste gebruik van elke geleentheid...”,
vir die Here!
Elke keer as by keuses in hierdie lewe kom moet ek hierdie
vrae vra:
Is dit vir die Here aanneemlik?
Hoe raak dit mý en ánder se lewe vir Hom?
Hoe kan ek die geleentheid die beste benut vir die Here?
Dit is wat dit in die werklikheid van die praktyk van die lewe
beteken om naby die Here Jesus te leef! My gedagtes,
woorde en dade is so onder beheer van die Heilige Gees,
en Hy help my om naby aan Jesus te leef.
Die Here Jesus sal nooit moeg raak vir jou opregte vrae nie,
want dit is die Heilige Gees wat jou die opregte vrae laat vra!
Jesus weet van al die wêreld se lewensvrae. Hy was hier by
ons met sy eie voete op die stofpaaie van hierdie wêreld.
Jesus sal jou ook help met al die regte antwoorde wanneer jy
in Hom bly en Hy in jou.
Daarom sê vers 29 van 1 Johannes 2 dit so in die Boodskap:
“Julle weet mos dat Jesus se verhouding met God in alle
opsigte foutloos is. In alles wat Hy doen tree Hy reg op.”
Jesus ken ons deur en deur. Wanneer ons saam met Hom leef,
in Hom en Hy in ons, dan wéét ons dit wat in vers 29 verder
staan in Die Boodskap: Elkeen wat só volgens God se wil
optree, is ‘n ware kind van God!
Leef baie naby aan Jesus!
Ernest