Ons lees dikwels van mense in die vermaaklikheidswêreld
wat kinders aanneem. Dan word daar ‘n groot storie van
gemaak. Sulke kinders het gewoonlik nie ‘n goeie vooruitsig
in die lewe gehad nie, maar na hul aanneming lyk hul
toekoms baie meer rooskleurig. Ons is dankbaar vir mense
wat hul liefde met kinders wil deel en hulle aanneem.

Wat ons self betref, weet ons dat God se liefde vir ons in die
oortreffende trap bewys word deurdat Hy sy eie Seun aan
die kruis laat sterf het om ons sy kinders te maak!
1 Johannes 3:1 sê: “Ons staan bekend as kinders van God.
Ons ís dit natuurlik ook. Ons hemese Vader self het ons sy
kinders gemaak – dít is nou liefde as daar al ooit liefde was!”
Mens wil hierdie vers oor en oor lees. Lees dit net weer rustig
en oordink dit. Dit moenie vir ons soos ou nuus klink nie.
Ons moet ook nie dink dat ons die grootheid en diepte daarvan
so maklik peil nie. Sou ons ooit kon besef hoé lief God ons het?

Ons is nie weeskinders nie. Ons is nie kinders sonder ‘n toekoms
of met ‘n baie onseker toekoms nie. Ons is nie net in naam
kinders van God nie. Ons ís dit! Kinders van God!
As kind van God kan ek keer op keer na Hom toe gaan met my
vrag van sonde en teleurstelling. Ek weet keer op keer dat Hy dit
wegneem en my reinig daarvan. Hy hou dit ook nie teen my nie.
Hy kom woon deur die Heilige Gees in my! Die Heilige Gees wil
my deurgaans help om as kind van God te leef. Ek het vooruitsig
op die lewe saam met God, elke dag. Môre en oormôre. Ek het
die erfenis van die ewige lewe saam met God. Ek loop nie elke
dag koersloos rond en wonder oor my toekoms nie.

Aardse eie- en aangenome kinders se toekoms is nie op aarde
gewaarborg nie. Hulle moet steeds keuses in die lewe gaan maak,
al het hulle ouers in hoeveel opsigte voorsien en gesorg.
Hulle moet steeds kies hoe hulle gaan lewe met dit wat hul ouers
aan hulle nalaat.
So is dit ook met God se kinders. God gee ook vir ons alles wat
ons nodig het om as kinders van God te kan lewe. Maar ons moet
ook die keuse maak of ons as kinders van God gaan lewe. Daarom
moet ons die voorstel wat Johannes verder aan in vers 3 maak,
keer op keer ter harte neem:
“Wel, maak dan Jesus se optrede die patroon van jou lewe:
soos sy lewe skoon en sonder foute was, so moet joune ook wees.”

Natuurlik is dit nie maklik nie. Ons weet dit. In die harde wêreld
gaan dit soms baie rof. Maar gaan dit jou laat terugdeins?!
Verseker nie. Ons weet dat God deur sy Gees, wat in ons woon,
ons help om soos Jesus te leef. Niks of niemand kan jou waarde
as kind van God wegneem nie. Selfs nie ons eie doen en late
stroop ons daarvan nie. Ons kan keer op keer teruggaan na God
met opregte berou en belydenis. Ons is sy kinders!

Kom ons lééf soos kinders van God! Want ons ís dit!
Nie net in naam nie! Kom ons probeer in alle opregtheid elke
tree in Jesus se voetspore trap!
So help ons, Vader, Seun en Gees!

Ernest