Ons het so gewoond geraak aan “dit is wat almal doen”,
dat ons ook maar meedoen, al is dit nie ons diepste
oortuiging van wat reg is nie. Ons smokkel so met ons
eie koppe. Dit bring mee dat ons uiteindelik nie eers
meer die sonde in ons eie dade raaksien nie. Ons getuig
aan die een kant van God se goedheid vir ons, en aan die
ander kant gaan ons volhardend voort met iets teen ons
innerlike oortuiging. Die Heilige Gees praat ook gereeld
met ons daaroor, maar ons weerstaan Hom ten opsigte
daarvan.
By wyse van spreke: Ons bly “oor stopstrate ry” waar ons
weet ons moet stop. Ons doen geestelike gimnastiek met
ons denke en voer allerhande toertjies uit om onsself te
oortuig dit is “OK” by God. Hoe werk ons koppe dat ons
onsself hiermee bluf?

Sonder dat ons dit besef sluip die sonde skelm in ons lewe
in en maak nes. Dit pla ons gladnie eers meer dat verkeerd
nou reg geraak het nie. God word egter nie deur ons anders
oortuig nie. God het nie sy Seun die duurste prys laat betaal
en nou kan ons dit maar afwater en goedkoop maak nie.
Ons kan onsself bluf, ja, maar nie vir God nie. 1 Johannes 3:4:
“Ons weet dat Hy die sonde nie kan verdra nie.”
Ons kan nie aanhou om met ons dade ‘n streep deur genade
te trek nie. Dink ons regtig die Heilige Gees kyk maar anderkant
toe? Wat vang ons aan? Kom ons vergeet daarvan om nou
‘n lys van reg en verkeerd op te stel. Ons weet waaroor die
Heilige Gees keer op keer met ons praat. Hoe kan ons Hom
weerstaan en bedroef en net ‘n bietjie later weer loof en dank?

Op ‘n manier moet ons vandag net weer die eenvoudige
boodskap van 1 Johannes 3:4 hoor wat so duidelik is:
“Sonde en ongehoorsaamheid aan die wil van God is presies
dieselfde ding. Om sonde te doen beteken dus om God se reëls
te oortree.” Dit is ‘n eenvoudige boodskap. Wat verstaan ons
nie hiervan nie? As jy God se reëls oortree, kies jy teen God se wil,
en dan doen jy die verkeerde goed. Punt en klaar.

Vers 6 sê: “Wie nou in ‘n intieme verhouding met Jesus staan,
sal mos nie ‘n gewoonte daarvan wil maak om op die sonde se
voorstoep te speel nie.” Let op die woorde:
“...intieme verhouding met Jesus...” Dit is waar die kern van die
saak lê. Die kern van die verhouding van liefde!
Wat is ons verhouding met Jesus? Is Hy deel van ‘n lysie van
belangrike “dinge” in my lewe, of is Hy alles!? Is Hy my lewe?!

Stop vandag by hierdie stopstraat. Dink mooi. Gaan sit eenkant
en kom ons kyk onder leiding van die Heilige Gees na ons lewe.
Die Heilige Gees praat duidelik in tyd saam met God. Doen dit.
En gaan doen wat God vra met jou hele lewe.

Ernest