Weet jy wat God se wil vir jou lewe is?
Mense worstel dikwels met hierdie vraag.
Dan vra hulle wat hulle gawes is. Hulle wil so
graag iets vir die Here doen, maar wat? Dit laat
ons dikwels vashaak by die vraag, sonder om by
die daad uit te kom. Hier is ‘n eenvoudige antwoord
uit die Woord van God op hierdie vraag:
“Ons moet mekaar liefhê!” Hierdie boodskap het julle
reg van die begin af gehoor.” – 1 Johannes 3:11.
Hierdie is die eerste gawe wat God aan ons elkeen gee.
Om lief te hê! Ons weet dit al vir ‘n baie lang tyd in ons lewe.
Daarom sê die teks ook ons het dit al van die begin af gehoor!
Ons moet God bo alles liefhê, en ons naaste soos onsself.
Dit is die kern van God se wil vir ons lewe! Wanneer ons dit
uitleef, kom so baie dinge wat ons vir God doen eenvoudig
vanself daaruit voort, en hoef ons nie te sit en “dink” wat ons
vir God kan doen nie!

Hoekom sukkel ons so met hierdie eerste gawe wat God aan
ons gee, en wat ons moet dóén, naamlik om lief te hê?
Hoekom sukkel ons so met hierdie eerste geskenk van God
aan ons!? Is dit omdat ons nie daarby inkoop nie? Soms kan
ons nie dink dat God vir mý, ja, die sondige ék, uitgekies het
om my eerste lief te hê nie. En dan gee Hy nog boonop aan my
liefde as ‘n gawe! Ons wil onsself dan eintlik veronskuldig om
nie lief te hê nie – asof ons dit nie kán glo nie...
Dit is nie die waarheid nie.

Ons moet presies verstaan wie ons is en wat ons vir God moet
doen. Waartoe ons in staat is, naamlik 1 Johannes 3:14:
“Ons weet mos: ons was eers geestelik dood, maar ons toestand
is verander. Ons lewe nou! Dit kan almal sien uit ons liefde vir
ons medegelowiges.” Ons ís nou anders! Hoor mooi:
Ons is nie meer die selfsugtige selfgerigte mense wat net na
onsself omsien nie! Nee! Ons is nou nuut. Jesus het dit alles vir
ons kom doen. Die Heilige Gees bly nou in ons en help ons om God
se wil te doen. Dit is God se wil vir ons lewe! Ons dade is nou in lyn
met ons nuwe identiteit in Jesus, deur die Heilige Gees! Ons het dit
alles as gawe van God ontvang om nou volledig vir Hom te lewe.
Ons moet ons nuwe identiteit, wie ons nou ís in die Here Jesus,
eenvoudig gaan uitleef. Dit is God se wil vir ons!
Om in Jesus se voetspore te loop en lief te hê soos Hy liefhet!
Ons moet inkoop met ons hele lewe!!

Ons moenie die Evangelie ingewikkeld of moeilik maak nie.
Ons moenie verstrengel raak in teologiese vraagtekens nie,
oor wat nou “presies” God se wil vir my lewe is nie. Ons moenie
ons energie mors met allerhande vrae wat niks met ons of ander
mense se saligheid te doen het nie. Die Evangelie is so eenvoudig!
Moenie vrae vra om weg te kom van die eenvoud en waarheid
daarvan nie. Dan sal ons ook minder die vinger wys na ander mense
en self eenvoudig voor God lewe. Leef in alle omstandighede liefde
uit teenoor alle mense.
God se koninkryk kom waar ons God se “eenvoudige” wil doen:
Om God bo alles lief te hê, en ons naaste soos onself.
Dit is God se wil vir ons. Vir jou persoonlik. Lééf dit uit! Dóén dít!

Ernest