Die Evangelie is baie eenvoudig. Ons maak dit self moeilik.
1 Johannes 3:16 is ‘n eenvoudige antwoord wat dié waarheid
op ‘n verstaanbare manier oordra: “Wil julle weet wat liefde is?
Ons het ‘n goeie voorbeeld daarvan: Jesus Christus het Homself
gegee om tot ons voordeel doodgemaak te word. Ons behoort
presies dieselfde te doen. Ons moet bereid wees om ons lewe
tot die voordeel van ons medegelowiges te gee.”

Dit is baie duidelik. Wanneer dit by die Evangelieboodskap kom,
dan skuif die eie ek met my behoeftes op die agtergrond.
Waar was Jesus se “eie Ek” toe Hy aan die kruis gehang het?
Jesus is ons voorbeeld. Filippense 2:5 sê: “Dieselfde gesindheid
moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:...”, en dan
beskryf verse 6-11 dit treffend verder hóé Jesus Homself prysgegee
het vir ons. Liefde is om soos Jesus deur die stofstrate van die lewe
te stap en beskikbaar te wees vir dit wat God deur jou vir mense
wil doen.

“Byvoorbeeld, veronderstel iemand het alles wat hy nodig het.
Hy kom egter agter dat ‘n medegelowige eenvoudig nie genoeg
het om oor die weg te kom nie. Wat nou gemaak? Wel, as die
persoon wat genoeg het, meen die nood van die ander een raak
hom nie en ongevoelig daarby verbykyk, flits daar rooi ligte.
Daardie persoon tree eenvoudig nie op uit die liefde wat van God
kom nie.” – 1 Johannes 3:17.

Natuurlik kan ons nie elke bedelaar en ‘n persoon met ‘n karton
om sy nek help nie. Mense misbruik ook die goedheid van ander.
Die liefde begin egter binne in my waar die Heilige Gees my oë
oopmaak vir ware nood, en geleenthede waar ek wel kan help.
Die Heilige Gees gee my ook ‘n gesindheid van liefde teenoor
die persoon wat ek selfs nie eers kan help, of gelei voel om te
help nie. God kyk wat in ons hart aangaan, en tel nie die geld
wat ek by verkeersligte uitdeel nie.

Dit bly ‘n eenvoudige boodskap wat ons nie moet kompliseer met
allerhande vrae of verontskuldigings nie. Daarom nog hierdie stukkie
motivering van 1 Johannes 3:18: “My liewe kinders, ons liefde moenie
net uit ‘n gepraat bestaan nie. Dit moet in dade uitgeleef word.
Dit is wat iemand doen vir wie God se waarheid belangrik is.”

Ernest