Oprah het ‘n onderhoud gevoer met JK Rowling,
skrywer van die Harry Potter-reeks. Sy vra toe aan
haar of sy in God glo. Ja, sê sy. Sy glo in ‘n groter
godheid wat êrens is. Ons weet dit is nie die God
wat ons in glo nie. Ons God is nie maar net ‘n groter
godheid nie. Nie net ‘n groter wese wat êrens is nie.
Wat onbetrokke by die skepsels op aarde is nie.
Ons God is nie ‘n god nie, maar dié God.
Ons weet die ware God wat ons aanbid, is die
Almagtige lewende God, wat volledig betrokke is
by sy skepsels! God het tot redding van die mens
gekom in Christus. God het deur die Heilige Gees
in sy kinders kom woon. God is so betrokke dat Hy
ons Vader is. God het in sy Seun die stofpaaie saam
met ons kom loop tot aan die kruis.

1 Johannes 3:23 sê: “Dít is wat God wil hê:
ons moet sy Seun, Jesus Christus, volledig in die geloof
aanvaar vir Wie Hy is.” Die ware God is die betrokke God,
Vader, Seun, en Heilige Gees.

Die belangrike is nou dat óns, wat God so leer ken het deur
sy liefde en genade, nou sy beeld moet uitstraal in hierdie
wêreld. Ander mense moet God deur ons leer ken.
Die uitleef van ons geloof in Jesus is ‘n getuienis opdrag in
vers 23: “Daarmee saam moet ons die wil van Jesus doen
deur mekaar lief te hê. Oor en oor kom dieselfde boodskap:
om lief te hê! Dit is God se wil vir ons!

Loop die tweede myl saam met jou medemens.
Moenie ander se kop afbyt nie. Sit ‘n wag voor jou mond.
Wees sensitief vir ander se behoeftes. Moenie selfsugtig
wees en net jou eie belange soek nie. Ag die ander een in
nederigheid hoër as jouself. Sit energie in jou verhoudings
met mense. Gee regtig om. Laat die liefde van Jesus grondvat
by mense, deur jou optrede.

Vers 24 sê: “Wie God se wil so doen, is werklik deel van die
intieme familiekring van God. Sy belange raak totaal met die
belange van God vervleg. God is vir hom die allerbelangrikste
en hy is net so belangrik vir God. Dat God ons werklik so deel
van sy intieme familiekring gemaak het, kan ons daarin sien
dat Hy aan ons die Heilige Gees gegee het.”

Dit is wonderlik om hierdie waarheid te besef.
Dit is hemels om dit uit te leef.
Ek begin in my hart dra wat God in sy hart dra.
Ons besef so min wie ons regtig is!
En dit is alles die werk van God!

Ernest