God is groot en heilig! Al het ons die grootste vrymoedigheid
om in Christus, en deur die Gees in God se teenwoordigheid
te kom, moet ons steeds weet ons is in die heilige God se
teenwoordigheid. Al is God ook ons hemelse Vader, en is ons
sy kinders, eerbiedig ons Hom as God, ons Vader. Daarom moet
ons met respek voor God leef. Ons kan nie God allerhande
name noem, anders as wat Hy Hom aan ons openbaar nie!
Ons moet ook met eerbied tot God nader in gebed. Ons kan
nooit “te tuis” raak in God se teenwoordigheid nie.

Moses is ‘n voorbeeld daarvan. As daar al iemand was wat die
vrymoedigheid gehad het om regtig met God te stoei oor
gebeure en mense, dan was dit Moses. Hoeveel keer het hy nie
in die bres getree vir sy volk nie. Met God se gee van die wet is
Moses met diep ontsag vervul in God se teenwoordigheid.
Eksodus 20:18: “Toe die volk die donderslae en die klank van die
ramshoring hoor, en die weerligte en die rook op die berg sien,
het hulle van angs gebewe en op ‘n afstand bly staan.”
Vuur vul die omgewing. Die berg skud. Donderslae vul die lug.
Net Moses is bo-op die berg toegelaat.

God se heiligheid vul sy teenwoordigheid. Dit laat ons besef
hoe klein ons voor God is. Al is ons God se kinders, is ons steeds
so ontsettend klein voor Hom. God se grootheid is oorweldigend.
Ons moet op die Here wag in sy teenwoordigheid, en net weer
besef Hy is God, en ons is mens. Ons moet wag totdat ons
selfsugtige ego’s wegsmelt in sy teenwoordigheid. Ons moet wag
in sy teenwoordigheid totdat ons beheptheid met onsself opsy
geskuif word. Ons moet weet in God se teenwoordigheid gaan
dit oor Hom. Ons lewe vir Hom.

Dan sal die heerlikheid en almag van die Here God weer op
nuwe maniere sigbaar word in hierdie wêreld. Dan sal die
heerlikheid en die almag van die Here ook op nuwe maniere
beleef-baar word in hierdie stukkende wêreld. Dan sal ons ook,
in Moses se terme, spreekwoordelik begin gloei en skitter na
elke gesprek met die lewende God.
Sy heiligheid gee immers af op ons elkeen wat met
eerbied en ontsag in sy teenwoordigheid was.

Ernest