Habakuk was eintlik ‘n omgekrapte profeet.
Lof het nie spontaan oor sy lippe gekom nie.
Hy het verseker nie daarmee afgeskop nie.
Hy begin met klagtes en verwyte teenoor God.
Sy gebedstaal is eintlik waaroms en hoekoms.
Hy het natuurlik genoeg rede om omgekrap te
wees. Aan bewind is die goddelose koning Jojakim.
Korrupsie en immoraliteit vier hoogty. En dan
staan die Babiloniërs ook nog gereed om Israel
binne te val en te vernietig. Habakuk dink dat
God niks doen aan hierdie omstandighede nie.

Dan gaan Habakuk in die tweede hoofstuk voort
om te vertel van een goeie besluit wat hy in hierdie
omstandighede geneem het. En dit is hier waar ons
regop moet sit en ons ore moet spits. Habakuk het
doelbewus begin wag op die Here.

“Wag op die Here” is nie ‘n passiewe toestand nie.
Dit is aktief. Dit is om in ‘n geestelike ingesteldheid
van gereedheid en ontvanklikheid voor die lewende
God te wees!
Habakuk moes leer om sy tyd met God se tyd te
sinkroniseer. God pas nie aan by ons tyd nie.
Ons dikteer nie die tyd waarop God wat ookal moet
doen nie. Habakuk moes ook die regte plek voor God
ontdek in God se teenwoordigheid. Habakuk moes by
dit alles klein genoeg groei voor God.
Let op: Ons moet klein genoeg groei voor God.
Dan kan ons weer die Here se suiwer stem onderskei
en nie eintlik heeltyd net onsself hoor nie.

Toe dit gebeur, het Habakuk ook skielik die almag van
God beleef, in sy omstandighede. Daarom begin hy in
hoofstuk 3 sing oor God se magtige verskyning.
Waar Habakuk God vroeër nêrens raakgesien het nie,
sien hy God nou letterlik orals. Hy sien God se almag
en glorie raak. Hy sien hoe groot God is, en hoe die
aarde skud en bewe voor die Here. Ons leer so baie uit
die boek Habakuk.
Ons leer veral om geduldig op God te wag.
Om op die regte manier op God te wag.
Om aktief en gereed en ontvanklik voor God te wees
vir wat Hy deur ons wil doen.
In wag op God is die krag van God!

Ernest