Enige reis wat jy te voet aanpak begin met die eerste tree.
En dan die tweede, en derde...en so vorder jy tree vir tree.
Dieselfde geld wat ons geloofslewe betref. Die Here Jesus
word al hoe duideliker sigbaar in ons lewe deur elke opregte
geloofsbesluit, soos die Here dit wil hê. En natuurlik ook die
praktiese uitlewing daarvan. Jesus “word al groter” in ons
midde deur een opregte gebed op ‘n slag, of een daad van
gehoorsaamheid, een stukkie omgee en deernis, een woord
van bemoediging, die uitdeel van een stukkie brood en een
beker water...

Johannes die Doper sê: “Hy moet meer word en ek minder.”
– Johannes 3:30. So groei ons saam met Johannes die Doper
een tree op ‘n slag, een woord op ‘n slag, een daad op ‘n slag.
Tree vir tree in die voetspore van Jesus in al ons keuses van
gehoorsaamheid aan Hom. In hierdie hele proses van
geestelike groei, groei ons “kleiner” voor die Here en Hy word
groter in ons lewe. Ons herken en erken al hoe meer sy
grootheid, Wie Hy reeds is! “Hy moet meer word en ek minder.”

Die lewenslange uitdaging vir elke opregte navolger van Christus
is om klein genoeg te wees sodat God se grootheid in en deur
ons sigbaar kan word. Ons moet minder word, sodat Hy wat
alles is, nog meer kan word in ons. Hierdie vorming begin met
die eenvoudige keuse om onsself daagliks beskikbaar te stel as
nederige werktuie in die hand van die Here.

Dit is lewensbelangrik. Tree vir tree moet ons
loop waarheen die Here ons wil lei. Oomblik na oomblik moet
ons fyn ingestem wees om die Heilige Gees te hoor en te
gehoorsaam.
Aanvaar hierdie uitdaging om minder te word sodat die Here
meer kan word in jou lewe. Elke dag. Elke keuse. Elke tree.

Ernest