Hoe word God alles in ons lewe?
Hoe groei ons klein genoeg sodat God,
wat in elk geval die hele kosmos vashou,
groot kan skyn deur ons?
Die antwoord is eenvoudig:
Ons moet hoe en glo wat Jesus in Lukas 10 sê:
“Gaan nou! Maar onthou: Ek stuur julle soos
lammers tussen wolwe in.”

Dit is ons identiteit as gestuurdes van die Here.
Jesus stuur 70 mense uit en omskryf hulle as
lammers tussen wolwe.
Dit is ‘n brose rolbeskrywing!
Ons is nie magtige leeus wat rondloop en brul nie.
Ons is nie olifante wat vreesloos storm nie.
Jesus se gestuurdes is lammers. Nie eers skape nie.
Nog broser...lammers! Swak. Onbeholpe. Broos.
Kwesbaar.

Dit beklemtoon dat ons op ons eie niks vir die Here
kan doen nie. Die Here self sorg vir ons oorlewing en
oorwinning. Die Here Jesus het self gesê dat ons niks
sonder Hom kan doen nie. Maar dalk is dit juis op
hierdie punt dat ons die groot punt mis.
Ons wil geestelike leeus wees. Ons sien ons krag in
onsself. In ons eie brul. Ons dink ons is taai manne
en sterk vroue in die Here se diens.
Jesus stel dit verrassend anders! In sy oë is ons soos
lammetjies. Ons is geheel en al van Hom afhanklik vir
alles. Hy het self in Matteus 5:3 gesê:
“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is,
want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”

Elke deurbraak in die Here se Naam is uitsluitlik aan sy
krag te danke. Sy krag wat in en deur ons werk.
Alles kom van die Here af. Ons meld by Hom aan vir
diens en Hy werk deur ons.
“Gaan nou! Maar onthou: Ek stuur julle soos lammers
tussen wolwe in.” – Lukas 10:3.
Klein genoeg vir God se krag!

Ernest