Matteus 10:42: “Wie aan een van hierdie geringstes
net ‘n beker koue water gee omdat hy my dissipel is,
sál sy beloning kry.”
Klein dade het groot gevolge. ‘n Beker koue water in
Jesus se Naam maak ‘n baie groter verskil as wat ons dink.
Die Here sê dit. Dade van vriendelikheid, deernis, en omgee
verander die wêreld een klein stukkie op ‘n slag, met groot
gevolge.
Wanneer Jesus beelde vir sy volgelinge gebruik praat Hy van
kleintjies, kindertjies, lammers, skape. Nie magtige en kragtige
diere soos leeus nie. Ons is weerlose navolgers van die lewende
Here. Met ons sagte woorde en dade van omgee versprei ons
die soutkorrels in hierdie wêreld. Só groei God se koninkryk.
Só is ons lig in duisternis. Só is ons suurdeeg wat die hele deeg
deursuur en dit uiteindelik smaak gee.
Ons is geroep om klein te wees. God is groot.
Selfs al dien niemand God nie, Hy is groot! God is Wie Hy is.
Ten spyte van wat mense oor God glo of nie glo nie, of van wat
hulle oor God sê of nie sê nie. God bly Wie Hy is:
Die groot en almagtige God! Ons het die roeping om Hom groot
te laat wees in ons lewe. Dit gebeur wanneer ons kleiner word,
en Hy groter in ons lewe. Johannes die Doper het gesê:
“Hy moet meer word en ek minder.”
Een van die belangrikste maniere om kleiner te word is deur
praktiese nederige dade in die Here se Naam aan ander mense.
Die meeste Christene wil graag “groot dinge” doen vir die Here.
Die vraag is: Wanneer is dit groot? Klein dade is die Here se Naam
is reeds groot vir die Here.
Alle kinders van die Here kan deurlopend groot dade vir die Here
doen, deur klein dade in die Here se Naam. Nederige dade van diens.
Bekers koue water aan dors mense. Nederige dade van omgee
waarvan niemand eers weet nie. Dan word ons klein genoeg sodat
God deur ons kan doen wat Hy wil.
Dan word ons klein dade in die Here se Naam groot dade met
groot gevolge. Dit is hoe die Here deur ons wil werk.
Ernest