Om ‘n ware ontmoeting met die Here te hê
is om op jou knieë in die stof neer te val.
Die tollenaar in Lukas 18:13 besef dat hy in die
teenwoordigheid van God is en roep eenvoudig uit:
“O God, wees my, sondaar, genadig.”
Petrus besef in Lukas 5:8 dat hy in die teenwoordigheid
van Jesus die Here is en val aan sy voete neer en roep uit:
“Gaan weg van my af, Here, want ek is ‘n sondige mens.”
Om jou regtig in God vas te loop is om in die stof voor
Hom te lê.

Ons ken die kerklike leerstuk dat ons moet weet hoe groot
ons sonde en ellende is, hoe ons daarvan verlos kan word,
en hoe ons dan dankbaar teenoor die Here moet gaan leef.
Dit is alles waar. Dit gebeur egter nie noodwendig in
dieselfde volgorde nie. Die meeste mense besef nie hulle
is sondaars totdat hulle in die Here vasgeloop het nie.
Hulle besef nie hoe verlore hulle is nie, totdat hulle gevind
word. Om in die Here se teenwoordigheid te wees,
is om meteens te besef hoe sondig en verlore jy is,
en hoe magteloos jy is om self iets daaraan te doen.

Die Here se teenwoordigheid laat jou verstaan hoe verlore
jy is. Net Hy kan jou red. Net Hy kan jou genadig wees.
Daarom smeek die tollenaar so ernstig om God se genade.
Daarom dat Petrus vir Jesus sê: “Gaan weg van my af, Here,
want ek is ‘n sondige mens.” Hy kan nie in die Here se
teenwoordigheid wees behalwe as die Here hom genadig is
nie! In God se teenwoordigheid word ons bewus van ons
kleinheid...ons nietigheid.

God se heiligheid bring ons op ons knieë. Dit laat ons
desperaat na Hom uitroep om genade. Dit maak ons klein
genoeg om in sy diens te wees. Op ons knieë voor God.

Ernest