Hoe gebeur die soort nederigheid wat God van
ons as navolgers van Christus verwag? Hoe lyk nederigheid?
Nederigheid het ruggraat. Dit is nie ‘n “jammer dat ek leef”
houding nie. Nederigheid beteken nie dat jy nie ‘n sterk
standpunt en oortuiging het nie. Nederigheid beteken nie
jy is ‘n vloerlap vir ander mense waarop hulle trap nie.
Hoe lyk nederigheid dan? Hoe gebeur dit volgens die Here
se wil? Jakobus 4:7 sê: “Onderwerp julle aan God. Staan die
duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.”
Dit is ‘n aktiewe onderworpenheid aan die Here.
Dit is onderdanigheid aan die Here. Die Griekse werkwoord
wat Jakobus hier vir onderdanigheid gebruik veronderstel
‘n doelbewuste en aktiewe keuse om onsself ondergeskik
aan God se wil te stel in alle omstandighede. Ons laat vaar
ons eie planne ter wille van God se wil.
Nederigheid beteken nie ons moet ophou om onsself te
wees nie. Dit beteken ook nie dat jy jou persoonlikheid
prysgee nie. Ons bly steeds wie ons is, maar sonder
arrogansie, of eersugtigheid. Nederigheid laat ons voor
God buig. Regtig voor God buig. Ons gee ons eie vooroordele
prys. Ons offer ons eie gerief op. Alles ter wille van God se wil
met ons lewe, en met die mense rondom ons se lewe. Dit begin
in ons hele lewe gaan oor dit wat vir die Here saak maak.
Augustinus het gesê: “As julle my vra wat die eerste kenmerk
van opregte geloof is, sal ek sê die eerste, tweede, én derde is
nederigheid.”
Die hele Christelike lewe is om te groei in nederigheid.
Uiteindelik is ‘n nederige leefwyse om die lewe van Christus na
te leef. Dit is hoe nederigheid lyk en gebeur!
Ernest