Daar is net een van ons elkeen geskep. Elke mens is uniek.
Daar is nêrens ‘n menslike kopie van jou nie. Die Here het
verder ook verskillende gawes en talente aan elke unieke
mens gegee. Daardie gawes en talente moet ons tot sy eer
uitleef. En tot voordeel van ander mense. So leef elkeen
van ons ook in ‘n unieke verhouding met die Here.
Juis omdat daar net een soos ek is. Daarom is daar ook nie
‘n massaproduksie van geloof en die uitlewing daarvan wat
by almal dieselfde lyk nie. Daar is nie ‘n presiese geestelike
resep wat ons elkeen moet volg nie.
Ons almal hou byvoorbeeld nie stiltetyd op dieselfde manier
nie. Ook nie op dieselfde tyd nie. Ook nie ewe gereeld nie.
Daar is nie een resep, wat deur die bank vir almal geld,
presies hoe om die Here reg te dien nie.
Ons het almal wel een roeping, naamlik om die Here van
harte te volg en te verheerlik. Tog doen nie een van ons dit
presies dieselfde nie. Ons is nie fotostate van mekaar nie.
Ons hoef nie soos mekaar te lyk, te klink en op te tree nie.
Kyk maar na Jesus se dissipels wat Hom op aarde gevolg het.
Hulle het baie van mekaar verskil in die uitleef van hulle
verhouding met die Here. Vandag nog is Jesus se dissipels
op unieke maniere Bybelgetrou en ondergeskik aan Hom.
Ons is juis, in ons verskeidenheid, op verskillende maniere
relevant tussen die mense waar ons daagliks leef.
Ons uitdaging is om opreg voor die Here te leef.
Eers wanneer ons ons ware self voor God ontdek,
en dit ook daagliks uitleef tot sy eer, word ons klein
genoeg om ook die instrument te wees waardeur die Here
sy koninkryk wil laat kom. Ons moenie soos ander mense
probeer wees nie. Veral nie in ons verhouding met die Here
nie. Wanneer ons ander gelowiges se gedrag naboots,
raak ons slawe van wie of wat ons nie is nie.
God word waarlik verheerlik wanneer ons klein en nederig
genoeg is om ook vrede te maak met wie en wat ons in die
Here is. Ons geloofskrag lê in Hom. Nie in iemand anders nie.
Ons moet dien “...met die krag wat God verleen. So moet
julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus,
aan wie die heerlikheid en krag behoort tot in alle ewigheid!
Amen.” – 1 Petrus 4:11.
Ernest