Wie maak die verskil?

Ons is nie self die groot verskil makers in hierdie wêreld nie.
God is die groot verskil maker. Ons kan nie spog met hoeveel
bekeerlinge ons ingebring het nie. God verander mense se
lewens. God roep ons nie om eiehandig die wêreld te verander
en mense uit te sorteer en reg te ruk nie. Net die Here kan
mense verander. God alleen het die krag om deur die
Heilige Gees se ingrype mense se lewe om te keer.
Net die Here kan mense red.
Dit is nie ons wat bekeerlinge inbring nie.

Waarvoor roep die Here ons dan?
Hy roep ons om getuies van Christus te wees.
Ons is voltydse weerkaatsers van die heerlikheid
van die Here. Lewende briewe van Christus wat
doelbewus sy liefde en deernis in die wêreld versprei.
Ander mense moet Gd se almag en krag in ons lewe
aanvoel en raaksien. Ons moet klein genoeg wees.
Ons moet deursigtig wees. God moet raakgesien word
deur ons lewe. So getuig ons. Dit is hoe ons dissipels
“maak”. Ons roeping is om onvoorwaardelik lief te hê.

Die bekende teoloog, David Bosch, het gesê dat ons as
Christen getuies “...kies vir nederigheid. Maar dit is ‘n
vrymoedige nederigheid, of ‘n nederige vrymoedigheid.
Ons weet net ten dele, maar ons wéét. Ons glo dat die
geloof wat ons bely, waar en reg is en dat dit verkondig
behoort te word. Ons doen dit egter nie as regters wat
ander veroordeel nie, maar as getuies; nie as soldate nie,
maar as vredesgesante; nie as verkoopsagente wat ander
onder hoogspanning en druk wil manipuleer nie,
maar as ambassadeurs van ons Dienskneg-Here.”

“Een mens se gloeiende persoonlike getuienis van
‘n ontmoeting met God is net so goed as ‘n biblioteek vol
abstrakte argumente.” – Vance Havner.
God maak die verskil! In ontmoetings met Hom!

Ernest