Ons het gister gesien die Here roep ons om sy getuies
te wees. Die verandering wat in mense se lewens moet
plaasvind is die werk van die Heilige Gees. Ons moet
as’t ware “uit die Here se pad staan” sodat die Heilige
Gees mense op sy eie manier kan aanraak. Ons kan nie
mense verander nie, en nog minder kan ons spog as daar
verandering in mense se lewens plaasvind.
Dikwels het iemand al hoeveel keer in sy lewe die
boodskap van die Evangelie gehoor, en al hoeveel keer
dit in die lewens van gelowige mense raakgesien.
Wanneer daar dan ‘n ommekeer in sy lewe plaasvind is dit
nie noodwendig jy wat dit bewerkstellig het nie.
God het deurgaans deur die Gees in so ‘n persoon gewerk,
en nou gehoorsaam hy die Gees. Jy kan nie die persoon se
bekering vir jouself opeis en sê hoeveel bekeerlinge jý
ingebring het nie...

Miskien is dit een van ons grootste uitdagings.
Om minder van God se “spasie op te neem.”
Ons staan heeltemal te maklik die hele pad vol.
‘n Voorbeeld hiervan is die profeet Jona. Hy het dikwels
in die Here se pad gestaan! Wanneer God hom na Nineve
stuur, vlug hy per skip Tarsis toe. Toe God later die stad
Nineve wil red, soek Jona vuur en swael op hulle.
Wanneer God genade uitdeel, wil Jona oordeel uitdeel.

Wat doen God? Wanneer Jona per skip vlug, weg van
sy roeping en gestuurdheid, moet God hom daar afkry,
terug na waar God hom stuur. God stuur ‘n storm op die
see en wys vir die matrose dit is Jona se skuld.
“Toe bid hulle tot die Here en sê: “Ag, Here, moet ons
tog nie laat vergaan oor hierdie man nie. Moenie dat ons
iemand onskuldig doodmaak nie. U is die Here, U doen
wat U wil.” – Jona 1:14.

Toe gooi hulle Jona oorboord. Maar God sit hom met
‘n vis agterna! Hierna word die see kalm. Die tragedie is
net dat God eers sy profeet oorboord moet kry voordat
diegene aan boord gered kon word. Jona neem God se
spasie op. So hoort dit nie. Ons is nie gered om net hierna
die pad van God te versper om ander te red omdat ons
ander oortuigings as God het oor wat gedoen moet word
nie.

Die kuns van geloof is om klein genoeg voor God te word,
en nie in sy pad te staan wanneer Hy mense wil red en
verander soos Hy dit wil doen nie. Ons kan nie aan God
voorskryf hoe Hy moet werk, en hoe vinnig nie. Ons kan
ook nie wat God doen vir onsself opeis as ons sukses nie.
Ons is in God se eksklusiewe diens, en nié óók in ons eie
diens nie. God wil ons kragtig gebruik. Verseker.
Maar dan soos Hy dit goeddink. As ons opreg op God wag,
en fyn luister na die Heilige Gees,
hoef ons nie saam met Jona oorboord te gaan nie...

Ernest