Jona kom in Nineve aan en doen tot op die letter
wat God hom beveel het. Spoedig is dit duidelik
dat sy hart nie hierin is nie. Koud en klinies kondig
hy aan dat Nineve nog net 40 dae oor het voordat
God se oordeel hulle finaal gaan tref. Net dit.
Geen enkele woord van genade, of inkeer, of
bekering nie. Geen hoop vir hulle nie. Hy het net
‘n “one liner” vir hulle. Vir die ganse stad en al sy
inwoners. Oordeel. Punt. En dan doen Jona ‘n
vreemde ding. Hy gaan sit buite die stad en wag op
God se oordeel oor die stad wat hy so pas oor hulle
aangekondig het. Hy gaan getuig nie dat redding
moontlik is nie. Hy tree nie eers soos ‘n Abraham,
met Sodom en Gomorra, of Moses met die volk,
by God in die bres vir die mense nie!
Maar Jona het hom misreken met God. Verder het
hy hom misreken met die koning en die inwoners
van Nineve. Hulle het sy “one liner” boodskap ernstig
opgeneem! Teen sy verwagting. God het met hierdie
een-lyn preek die mense se harte aangeraak!
Teen Jona se verwagting in!
Jona 3:9 is hulle reaksie op sy boodskap:
“Miskien sal God van plan verander en nie meer
kwaad wees nie. Dan sal ons nie omkom nie.”
In hierdie sweempie van hulle hoop kom God in
genade hulle tegemoet! Net daar kom hulle tot
bekering! Totaal teen Jona se oordeel-verwagting.
In hulle hoop dat God sou afsien van sy plan om
hulle te vernietig, doen Hy dit en red hulle in genade!
God se genade en vergifnis oorroep sy oordeel,
altyd, orals...God boer met genade!
Hoe jammer is dit dat Jona, en ons, dikwels so min van
God se genade snap. Jona sit dikbek eenkant as hy besef
hy gaan nie hemelse vuurwerke sien nie. Soms voel ons
ook soos Jona. Ons wil vuur en oordeel sien. Mense moet
boet. Ons wil hemelse vuur sien teen geweld, en misdaad,
en korrupsie. Teen mense wat kinders molesteer en vroue
geweld aandoen. Mense wat hulself verryk ten koste van
ander, en selfs armes uitbuit!
Maar God is steeds die God van genade!
Ons roeping is steeds om genade uit te deel.
In God se Naam!
Ons moenie God se spasie opneem nie...
Ernest