Jona beleef God se genade eerstehands in die vis
se ingewande. Hy beleef dit verder sigbaar voor
hom wanneer God Nineve spaar. Hy sien dit!
Nogtans verander dit hom nie. Hy is nie méér
genadig en sagter nie. Inteendeel. Hy gaan sit
verbitterd buitekant die stad. Hy wens dat hy
kan doodgaan. Hoe vreemd tree hy nie op nie?
Nog erger. Hy gaan verder. Hy probeer God afdreig.
Dit is óf Nineve, óf hy wat moet sterf. So voel Jona.
Maar God laat Hom nie intrek in ons kleinlike optrede
soos ‘n kind wat op die grond neerval en skop omdat
ons nie ons sin kry nie. God tree verrassend anders op.
Ten spyte van Jona se optrede gaan sy hart steeds uit
na Jona. God is nie soos ons nie. Vra jouself af: sou jy
jou nie vererg as Jona so optree nie? Ons sou. Maar dit
is juis die punt. Ons is dikwels ook maar soos Jona.
Maar God is nie soos ons nie. As Jona kwaad en verbitterd
is teenoor God, reageer Hy nie op dieselfde manier terug nie.
God speel nie oog-vir-oog en tand-vir-tand nie. In sy genade
laat Hy ‘n boom opkom om vir Jona koelte te gee en hom te
versorg. Dalk sal dit die moeilike profeet laat afkoel.
Maar nee. Jona neem steeds God se spasie op. Hy weier
om sy eie idees ondergeskik te stel aan God se wil. Hy is ‘n
Israeliet wat nie bereid is om aan ander volke genade te gun
nie. Sy liefde vir sy volk en vir homself is groter as sy liefde vir
God.
Ons doen dit vandag nog. Ons veroordeel mense wat nie
“soos ons” is nie. Om “soos ons” te wees is belangriker as God
se genade vir alle mense. Jona struikel oor sy afkoms, en sy eie
belangrikheid in eie oë. Hy struikel oor sy ideologie.
Terwyl God sy profeet se koelteboom laat sterf, vertel Hy
nogmaals vir Jona dat Hy die reg en mag het om Hom oor
sondaars te ontferm. Jona 4:10:
“Die Here het vir Jona gesê: “Jy is besorg oor die komkommer-
plant waarvoor jy nie gewerk het nie en wat jy nie versorg het nie.
Dit het oornag opgekom en oornag is dit dood.”
Per implikasie: maar jy is nie besorg oor duisende mense en diere
in Nineve nie.
Dit is uiteindelik Jona se eie keuse of hý
bereid is om God op God se terme te dien. God pas nie in ons
spasies en planne en koppe en giere en geite in nie...
God doen wat Hy wil. Maar Hy wil nog altyd sondaars genadig
wees, ongeag wat ons wil doen...
Moenie God se spasie opneem nie! Staan uit sy pad.
En so eindig die boek Jona met ‘n oop einde...
Daar is nie ‘n punt aan die einde van die laaste sin nie,
maar ‘n vraagteken. Die einde is oop. Die leser moet self die
konklusie trek...
“U is reg Here, dit is soos U wil! As ek opreg in U glo,
ontdek ek U is soewerein. ” Jy hoor nie Jona se antwoord nie,
want jy moet God persoonlik antwoord...
Ernest