Die onderwerp van seën en voorspoed het omstrede
geraak in die kerk. Ons wil geseën word en die lewe
in oorvloed leef waarvoor Christus gesterf het.
Tog wil ons God nie benader asof Hy ons “moet”
seën nie.
Die regte hoeveelheid gebed, lof en aanbidding,
of geloof en goeie werke, impliseer nie noodwendig
God se seën nie. Ons kan op geen manier God se seën
verdien nie. Dit is eenvoudig net God se genade!
In die voorspoed-godsdiens wil mense dikwels hê God
moet ‘n teenprestasie lewer. Seën en voorspoed gaan
oor veel meer as die materiële. Dit gaan ook nie oor
mý nie!
Dit is merkwaardig dat een Hebreeuse woord vir
“voorspoed” ook “vrede” is, volgens “Strong’s Complete
Concordanceof the Bible”. Shalom beteken vrede.
Die vrede wat Christus vir ons aan die kruis verdien het,
is ‘n omvattende algeheel insluitende vrede. Shalom
omsluit ook jou verhouding met God en mense. God se
gedagtes oor vrede en voorspoed, wat Hy wil gee, is baie
hoër en meer as wat ons onsself voorstel. Dit is om aan
ons sy genade, guns en beskerming te gee. Guns is God
se welwillendheid aan ons. God bewys sy goedhartigheid
en goedgesindheid aan hulle wat Hom liefhet. God se guns
is God se troue liefde.
Josef het God se guns beleef en van ‘n tronk na ‘n paleis
beweeg. God kan jou omstandighede ook in een oomblik
omswaai. Maar dit gaan ter wille van Hom!
Job het ook onder God se guns geleef. Hy ontvang gawes
van God. Job geniet ook God se beskerming.
Die belangrike les uit Job se lewe is dat ons nie geluk en
voorspoed nodig het nie, maar God se seën en guns.
Ons moet daarop fokus. Ons moet dit raaksien en geloof-
versterkend daaruit lewe. Ons het God se guns nodig.
Kyk wat sê Esegiël 16:1-14 oor die mens. God tref sy volk
in vervalle toestand aan. Hulle is soos ‘n baba wat weggegooi
is en niemand wil hulle hê nie. Hulle het in hulle eie bloed
gespartel. Toe het God egter by hulle gekom en vir hulle gesê:
“Leef!” God sê dieselfde vir jou!
Ons is so ingestel op voorspoed i.t.v. seën dat ons vergeet
ons moet lééf!
Leef in die Here se guns en seën, en ander mense sal dit
raaksien en jy sal God daarmee eer. Ons het die volle maat
van God se vrede in ons lewe nodig. Shalom.
Kies God se guns en God se seën in jou lewe en praat dan
reg daaroor! Moenie negatief spreek oor jou lewe nie!
Hou op kla oor wat jy het of nie het nie, en leef uit God se
guns en seën. Dit verander jou hele lewensingesteldheid.
En jy lééf die ware lewe, en dít in oorvloed!
Ernest