Daar is ‘n eenvoudige stelling weggesteek in die
tweede Psalm wat soos ‘n sonstraal deurbreek
deur die duisternis wat ons dikwels in die wêreld
ervaar. Ons moet hoor wat dit oor God en oor ons
sê! Psalm 2:4:
“Hy wat in die hemel woon lag hulle uit...”
Ons dink nie regtig daaraan dat daar Goddelike
humor in die Bybel is nie.

James A. Harnish sê hy het die eerste keer besef
God is vol humor toe hy gehoor het dat God ‘n
eendbekdier geskep het. Met gewebde pote,
‘n eendbek, en dat dit die enigste soogdier is
wat eiers lê!

Die teoloog Reinhold Niebuhr sê oor humor:
“Humor het te make met onmiddellike ongerymdhede.
Geloof het te make met fundamentele ongerymdhede.
Om te lag, is ons reaksie op onmiddellike ongerymdhede
en dié wat ons nie wesenlik raak nie. Geloof is die enigste
moontlike reaksie op fundamentele ongerymdhede van
ons bestaan wat die sin van die lewe self bedreig.
Humor is inderdaad ‘n voorspel tot geloof, en om te lag
is die begin van gebed. In die allerheiligste gaan lag oor
in gebed, en humor vind vervulling in geloof.”

Om te hoor hoe God lag is soos om ‘n goeie oor te hê
vir musiek. Sommige van ons is nootvas en ander is
toondoof. Maar die meeste van ons kan ‘n wysie aanleer.
As ons dit eers eenmaal hoor, as ons eers ‘n oor ontwikkel
het vir God se humor, kom ons agter die Bybel is vol daarvan.

In Psalm 2 skilder die skrywer dit met verbeeldingryke woorde:
Al die nasie smee planne, almal op aarde span saam, al die
heersers en leiers met mag en invloed, is op aarde besig om
planne te maak, saam te sweer en te konkel. Asof hulle die
geskiedenis bepaal. Maar hoog bo in die hemel kyk God die
almagtige af op hulle planne en Hy lag...

Dit is hoe lag is. Dit is dikwels ‘n geval van perspektief.
Die goddelike vrolikheid van Bybelse geloof volg wanneer
die menslike bestaan gesien word vanuit die perspektief van
die ewige God. God wil ons perspektief gee. As gelowiges kan
en moet ons meer ontspanne leef in God se teenwoordigheid.
Ons weet tog dat Hy in beheer is! Daarom kan ons “ligter” lewe!
Ons kan en moet God baie ernstig opneem. Ons moet baie styf
aan God vashou, en baie ligter aan die res van ons lewe.

G. K. Chesterton het gesê: “Angels can fly because they take
themselves so lightly.” Dit is nie ‘n naïewe godsdienstige
benadering nie. Ons verloor niks van die intensiteit van ons
roeping nie. Maar ons leef nie asof ons beheer moet behou nie.
God is in beheer. God is steeds God en ons is sy skepsels.
Ons vreugde lê in die grootheid en goedheid van God.
Ons kan saam met God lag en vrolik wees.

Ernest