Een van Jesus se aangrypendste verwysings na vreugde
vind ons in Johannes se vertelling van die laaste avondmaal.
Jesus spreek dit uit die aand toe Hy verraai word, agter
geslote deure, met die geluide van die woedende gepeupel en
die stemme van die wrede politici wat in die strate weerklink.
Jesus spreek hierdie woorde uit met al die politieke, ekonomiese
en godsdienstige mag van sy tyd saamgesweer teen Hom!
Jesus sê hierdie woorde op pad na die kruis:
Johannes 16:20, 22 en 23: “Dit verseker Ek julle: Julle sal huil
en treur, maar die wêreld sal bly wees. Julle sal bedroef word,
maar julle droefheid sal in blydskap verander. Net so is julle ook
nou bedroef, maar as Ek julle weer sien, sal julle harte vol blydskap
wees, en niemand kan julle blydskap van julle af wegneem nie...
In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed:
Ek het die wêreld klaar oorwin.”
Die lag wat vanuit die hemel weerklink is nie goedkoop,
afgewaterde ligsinnigheid nie. Dit is ryk, en diep. Dit is bruisende
vreugde. Dit is ‘n blydskap wat ontstaan uit dieselfde bron as lyding.
Dit is vreugde wat uit dieselfde plek kom as trane. Dit is die vreugde
van mense soos ons wat die lyding, onreg en pyn van die wêreld leer
ken het, maar wat iets sterker, dieper en kragtiger ontdek het.
Ons weet nou vas en seker dat die goedheid van God uiteindelik sal
triomfeer. Ons hou goeie moed want ons weet dat die krag van God
in Jesus Christus die wêreld oorwin het.
Daarom kan mense met bleek en vervalle gesigte, as gevolg van hulle
intense lyding, met ‘n breë glimlag sê: Jesus is Here! Dit is kinders van
God wat die hoop ontdek het wat voortspruit daaruit om dié Een te
kén wat ons lyding gedeel het, ons dood ervaar het, en deur die krag
van sy opstanding die wêreld oorwin het!
Daarom moet ons leer lag! Ons neem onsself veels te ernstig op.
Die “lag in geloof” kom inderdaad van God af. Ons moet God se
vreugde in ons leer ken! Ons moet God se vreugde in ons kan hoor,
en sien, en daarin deel saam met Hom.
Hoe kan ons dit regkry?
Eerstens: Hou gereeld stiltetyd saam met en by die Here.
Tyd saam met God in sy Woord gee ons ewigheid-perspektief.
Ontspan in God se teenwoordigheid, gesels met Hom in gebed,
raak rustig, en vertrou Hom volkome te midde van jou oorvol lewe.
Moenie gespanne leef omdat jy dink dat jy vir alles verantwoordelik
is nie. Kom tot rus en hóór God se vreugde óór jou, én in jou!
Tweedens: Kies vriende wat opbouend is in jou lewe en bou ook in
hulle lewe in. Leef saam met mense wat jou laat lag en in wie die
vreugde van die Here sigbaar is. Omring jou met mense wat die
vreugde in die Here uitleef. Ons moenie slagoffers word van toksiese
verhoudings nie. Natuurlik bly ons deurgaans sout en suurdeeg en lig!
Derdens: Maak tyd vir ontspanning en vermaak. Die Here wil ons die
vreugde van die lewe laat ervaar. Oefen, leef gesond, eet gesond,
ontspan en lag baie en opreg.
Vierdens: Ontdek dat jy God kán hoor lag met hemelse vreugde oor jou!
Sefanja 3:17: “Die Here jou God is by jou...Hy is vol vreugde oor jou,
Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou...”
Ontdek ware vreugde deur jou hoop en lewe in God!
Ernest