Thomas Merton, die monnik wat vir lank ‘n kluisenaars-bestaan
gevoer het, het gesê: “Niemand is alleen op pad hemel toe nie”.
Daarom gee die Here wonderlike mense in ons lewe. Familie en
vriende om saam mee te lewe! Thomas Merton skryf uiteindelik
in “The Seven Storey Mountain”: “...die Heilige Gees het vir my
gewag... en een van die belangrikste dinge wat Hy vir my gewys
het en waardeur Hy met my gewerk het,
was menslike vriendskap...”

In sy laaste gesprek met sy dissipels voor sy kruisiging het
Jesus gesê: “Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie...nee,
Ek noem julle vriende...” - Johannes 15:15.
Opregte, plat-op-die-aarde vriendskap, is een van die mees
onderskatte geestelike deugde waardeur die Heilige Gees
mense wil bedien met God se genade.

Watter soort vriendskap is opbouend en dra vrug?
Eerstens, het Aristoteles gesê, is vriende mense wie se
geselskap ons geniet. Hulle laat jou glimlag as hulle by jou
deur inloop. Saam kan julle opregte erns sowel as uitbundige
vrolikheid beleef. Ons kan ons voorstel dat die dissipels
dieselfde van Jesus beleef het. Hulle stap saam met Hom op
die strand, eet vis en lag rondom die vuur, luister na sy
gelykenisse-stories, sien hoe wyn maak by ‘n bruilof, en huil
by die graf van sy vriend Lasarus.
Jesus se blote teenwoordigheid verander gewone oomblikke
na ware lewenskrag, en die bruisende varsheid van ewige lewe!
Vriende beteken baie deur bloot daar te wees vir jou en by jou,
as is hulle ook stil.
Tweedens, het Aristoteles gesê, is vriende mense wat mekaar help.
Paulus skryf oor hierdie wederkerige aard van Christelike vriendskap
in 2 Korintiërs 1:4: “In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom
kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer.
Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God
ons bemoedig.” God stuur vriende oor ons pad. Hy werk deur hulle.
Derdens, het Aristoteles gesê, is vriende mense met wie ons ‘n visie
deel, soos wat Dawid en Jonatan een was van hart en siel.
In ‘n soortgelyke sin het Jesus gesê: “Ek noem julle nie meer
ondergeskiktes nie, want ‘n ondergeskikte weet nie wat sy baas
doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my
Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.”
Die dissipels begin nou Jesus se visie deel. Ons deel nou die visie en
die belofte van die koninkryk van God met Jesus. Die heerskappy,
en die wil, en die doel van God. Christen-vriende word saamgebind
deur Jesus se visie vir God se koninkryk. Hulle bid saam daarvoor en
leef saam daarvoor. Al verskil vriende se lewe dikwels in terme van
hul praktiese omstandighede, stem hul visie vir die koninkryk van God
ooreen.
Vriende is een van die maniere waarop God vir ons sorg.
Vriende is soos onsigbare engele wat ons op ons voete help as ons
vlerke vergeet om te vlieg. Geen wonder dat Spreuke 18:24 sê:
“Daar kan ook ‘n vriend wees wat nader is as ‘n broer.”
Vriende is gawes van die Here aan jou.

Ernest