‘n Man het na Jesus toe gekom en en die vraag gevra wat
so baie van ons vra, sonder om dit presies soos hy te verwoord:
“…wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” – Lukas 10:25.
Voor ons na Jesus se antwoord kyk, kom ons maak eers seker of
ons die vraag reg verstaan. The Living Bible parafraseer dit so:
“...what does a man need to live forever in heaven?”
Die opvallende probleem met hierdie parafrase is dat die vraag
eintlik baie dringender en persoonliker is.

Die wetgeleerde het gevra: “Wat moet ék doen...?”
Dit gaan nie oor ‘n filosofiese of objektiewe debat nie.
Die vraag kom diep uit die man se binneste. Dit gee uitdrukking
aan die knaende hongerte van sy siel. ‘n Dieper dors wat deur niks
geles word nie. As ons Jesus se antwoord reg wil verstaan,
moet ons die dringendheid van die vraag verstaan:
“Wat moet ék doen...?”

Die verhaal word vertel van die jong monnik wat die wyse
Kluisenaar-monnik in die bos besoek het, en aan hom gevra het
wat die geheim van die lewe is. Die kluisenaar het hom in die
middel van ‘n rivier laat staan, sy kop onder die water gedruk en
daar gehou totdat die jong monnik sy kop uitgeruk het om na
asem te snak. Toe het die wyse kluisenaar gesê:
“Wanneer jy lewe so ernstig begeer as lug, sal jy dit vind.”
Dit is hierdie soort honger na lewe wat hierdie wetgeleerde die
vraag na lewe laat vra.

Dit is belangrik dat wanneer die skrywers van die Evangelies
die uitdrukking “ewige lewe” gebruik, hulle nie praat van
“ewig leef in die hemel” nie. Hulle verwys nie na ‘n ewige
bestaan aan die ander kant van die graf nie. Ewige lewe is ‘n
kwaliteit van die lewe, hier en nou alreeds, vir die Here!
Dit is so vol van die lewe deur die Heilige Gees dat dit nie
uitgedoof kan word nie! Dit sluit die lewe na die dood in,
maar dit begin hier en nou! Die vraag na ware lewe word
nie beantwoord vanuit die standpunt van selfbelang nie.
A.R. Ammons sê hieroor: “By the time I got the world cut
down small enough that I could be the center of it,
it wasn’t worth having.”

Die wetgeleerde het vermoed dat net Jesus vir hom die
antwoord sou hê. Daarom die vraag voor almal.
Jesus vra ‘n teenvraag: “Wat staan in die wet van Moses
geskrywe? Wat lees jy daar?” Soos ‘n goeie Jood ken hy
die antwoord: “...Jy moet die Here jou God liefhê met jou
hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou
hele verstand, en jou naaste soos jouself.” – Lukas 10:27.
“Jy het reg geantwoord”, sê Jesus vir hom.
“Doen dit en jy sal die lewe verkry.” – vers 28.
Let op dat Jesus nie gesê het: “Glo en jy sal lewe” nie.
Dit gaan nie oor die regte leerstelling nie. Dit gaan oor:
Doen dit net! Gaan lewe so! Tree so op! En jy sal lewe!

Ewige lewe – lewe wat so vol is van God se Gees dit nie
uitgeblus kan word nie – het meer te make met leef,
optree en wéés, as met blote geloof. Dit gaan oor liefdevolle
gehoorsaamheid aan die lewende Here. Dit wat saak maak
word beskryf met ‘n aktiewe werkwoord:
Jy moet...liefhê! Doen dit!

Ernest