Die wetgeleerde hoor by Jesus:
Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
Jy moet God bo alles liefhê, en jou naaste soos jouself!
Doen dit net! Maar hy is nie tevrede nie…
Jesus se antwoord het duidelik dieper gesny as wat die
wetgeleerde wou hê. Hy het dit nog altyd geglo. Hy het
dit as ‘n godsdienstige waarheid aanvaar. Die probleem
lê egter by die doen! Lukas teken een van daardie
fassinerende verse op wat volmaak beskryf wat die meeste
van ons self so goed beoefen:
“Maar die wetgeleerde wou homself handhaaf en vra vir
Jesus: En wie is my naaste?” – Lukas 10:29.
In antwoord hierop vertel Jesus die gelykenis van die
barmhartige Samaritaan. Dit is een van die bekendste
verhale van alle eeue. En dit is juis die probleem!
Ons dink ons weet sommer klaar wat die verhaal beteken.
Daarom is dit so belangrik om by die vraag te begin:
“...wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry...”
Ons ken die res van die verhaal. Hoe die godsdienstige mense,
en die vromes, die mense met al die regte antwoorde, met die
skoon lewe, hulle skoon gehou het en aan die anderkant van
die aangerande man verbygeloop het.
Geen lewe hier nie. Geen Gees nie. Net ou, koue, ongevoelige
godsdienstige tradisie sonder ‘n druppel rooi bloed. En ons
weet hoe dat die Samaritaan, die uitgeworpene onder ons,
die verstoteling, die een wat nie toegelaat was binne die
tempelmuur nie, stilgehou het, en die man opgetel het,
en sy wonde versorg het, hom by ‘n herberg gaan aflaai het,
en vir die onkoste betaal het...
En het jy opgelet hoedat Jesus die wetgeleerde se vraag
omgedraai het? Die wetgeleerde het gevra: Wie is my naaste?
Nou vra Jesus vir hom: “Wie van hierdie drie is die naaste –
het soos die naaste opgetree – vir die man wat onder die
rowers verval het?” Die wetgeleerde kon die voor die hand
liggende antwoord nie ontwyk nie:
“Die man wat aan hom medelye bewys het.”
En Jesus het geantwoord: “Gaan maak jy ook so.”
– Luk. 10:36-37.
Wil jy die ware lewe vind? Lewe wat so vol is van die Gees
van God dat dit nooit uitgeblus kan word nie?
Gaan maak dan ook so! Gaan doen dit net!
Hê God lief met jou hele hart, siel, krag en verstand,
en begin om ander mense lief te hê, met die daad lief te hê,
soos wat jy jouself liefhet. Wanneer jy jouself in die
selfopofferende liefde van Christus verloor het, sal jy die
een ding vind wat regtig saak maak:
die ewige lewe, reeds nou, hier!
Aktief uitgeleef deur jou!
Ernest