Snaaks om daaraan te dink terwyl jy lewe...
maar wat sou jy wou hê moet die mense oor jou sê
die dag as jy dood is? Wat sou jy graag wou nalaat
waaroor die mense sou praat? Dinge wat jou sou
motiveer om nóú jou lewe te verander, sodat dit jou
nalatenskap sou wees...Dink ‘n bietjie hieroor na...
Kom ons kyk saam na vyf dinge wat wonderlik sou
wees om na te laat. Dinge wat jou nalatenskap as
mens kleurryk sou maak. Dinge wat regtig belangrik is.
Die eerste: Om Jesus te volg.
Sou mense jou onthou as ‘n ware volgeling van Jesus?
Christus bo alles in jou lewe! Paulus het hierdie begeerte
uitgespreek in sy brief aan die Filippense. Na ‘n terugblik
oor alles wat hy ervaar, gely, geleer én verloor het, sê hy
in Filippense 3:7: “Maar wat eers vir my ‘n bate was,
beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus.”
Alles het vir Paulus baie eenvoudig geword in sy lewe toe
Christus eerste gestel is. Sy prioriteite was duidelik.
Hy wou Christus kén!
Die tweede: Om ander lief te hê. Sou mense my onthou as
iemand wat ander mense liefgehad het, en die lewe voluit
met hulle gedeel het? Mense is bedoel om liefgehê te word,
en dinge is bedoel om gebruik te word. Ons doen dit so
maklik andersom in hierdie wêreld. Ons het dinge lief,
en gebruik en misbruik mense.
Die derde: Om die lewe te geniet. Sal mense jou onthou as
iemand wat regtig die lewe liefgehad het, en dit geniet het?
Jesus sê in Johannes 15:10 dat ons in sy liefde moet bly.
En dan sê Hy in vers 11: “Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap
in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.”
Sou mense jou onthou as iemand met vreugde wat gereeld
gelag het?
Die vierde: om met passie te leef. Sou mense jou onthou as
iemand wat met passie geleef het? Iemand wat onbeskaamd
gevoelvol kon wees en dit vir mense kon wys en met hulle
kon deel. Iemand met intense betekenisvolle emosies, wat
gebore is uit jou diepste oortuigings. Dat jy in trane kon wees
oor die dankbaarheid vir jou kinders, of goeie vriendskap,
of jou lewensmaat, of mense met wie iets goeds gebeur,
of wat swaarkry... Opregte gevoel wat spruit uit die diepste
oortuigings van jou hart.
Die vyfde: Om ander te dien. Sal mense jou onthou as iemand
wat eerder gedien het, as om gedien en bedien te word?
Dat jy van die wêreld ‘n beter plek wou maak deur alle mense
te dien. Hierdie wêreld is die wêreld wat God so liefgehad het
dat Hy sy enigste Seun daarvoor gegee het. Ons word geroep
om ook lief te hê soos God mense liefhet. Om deel te wees van
die koms van God se koninkryk in hierdie wêreld.
Die lewe is te kort om kosbare lewe te mors!
Moenie een God-gegewe dag mors nie.
Jy kry dit nooit weer terug nie, en jy kan dit nie inhaal nie.
Leef so dat jou nalatenskap regtig tot eer van God is.
Ernest