Wat is die kern van ons geloof? Wat is die een ding wat
sal maak dat as ons dít prysgegee het, dan het ons alles
prysgegee? Wat is die “must have” van ons geloof,
en wat is die “nice to have”?
Paulus gee die antwoord hierop helder en duidelik in
1 Korintiërs 15. Hy sê onder andere in vers 3:
“Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat
ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf,
volgens die Skrifte.” In die eerste paar verse van hoofstuk 15
deel Paulus met ons een van die vroegste Christelike
geloofsbelydenisse. Hy plaas die basiese boublokke van ons
geloof op die tafel.

Die eerste is dat Jesus vir ons sonde gesterf het. Volgens die
Skrifte. Dit is die mees basiese bousteen van die Christelike kerk.
Jesus is die rede vir die Christendom se bestaan. Sy lewe en dood
is die vertrekpunt en eindpunt van ons geloof.

Die tweede is dat Jesus op die derde dag opgewek is uit die dood.
Volgens die Skrifte. Die kerk weet sy graf is leeg! Jesus het nie net
vir ons sondes gesterf nie, maar Hy het dwarsdeur die dood gegaan
en dit oorwin. Nou is Hy die enigste Here oor alles en almal.

Die derde is dat Jesus aan die leiers in die vroeë kerk verskyn het,
en met name aan Petrus, die twaalf, en ook aan Paulus.
Sy opstanding is nie uit die duim gesuig nie. Al die mense die heel
naaste aan Jesus het Hom na sy opstanding lewend gesien,
asook meer as vyf honderd ander mense!
Op hierdie boustene is ons geloof gebou.
Hierin bely ons dat Jesus die Here is.

Ernest