Die eerste ruimtevaarder was die Rus Joeri Gagarin.
Nadat hy deur die ruimte gereis het, het hy opgemerk
dat hy nie God of sy woonplek daar raakgeloop het nie.

Die Bybel wil nie ons nuuskierigheid bevredig oor die
“ligging” van God se woonplek nie. Ons weet in elk geval
dat God deur die Heilige Gees ook in elke gelowige woon.
Ons is tempels van die Heilige Gees. God woon ook nie
gelokaliseerd op een plek sodat ons Hom hier of daar sal
sien of nie sal sien nie. God is in ‘n ander bestaansfeer
as ons. Hy is nie soos ons nie. Sy adres is nie op die een
of ander planeet, of in die een of ander sterrestelsel nie.
God woon in ‘n heeltemal ander dimensie as ons,
en tog is Hy ook teenwoordig in ons leef-wêreld.
Ons kan nie die adres van die hemel aandui soos wat
ons vir iemand op ‘n kaart kan wys waar Pretoria is nie.

Wat is die belangrike? Die vraag moenie wees
“waar is die hemel nie”? Die vraag moet wees:
“Wie staan aan die stuur van die heelal?”
Dit is waaroor die Bybel wil praat, en hieroor is die
Bybel glashelder. Die Drie-enige God is in beheer!
Vanuit sy hemel woning heers die Almagtige!
Jesaja 40:22 sê God het sy troon bokant die
hemelkoepel...! ‘n Beeld om te sê God is bo alles
en heers oor alles.

Jesus beklemtoon dan ook dat ons maar net aan God
kan vashou vir ewige redding. Volgens Paulus is ons
almal wat in Hom glo nou reeds hemelse burgers.
Ons het reeds hier op aarde van burgerskap verwissel!
Filippense 3:20: “Ons is burgers van die hemel, van waar
af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag”!
Al wat nog moet gebeur is dat God op die laaste dag aan
ons ‘n nuwe verheerlikte liggaam sal gee. Hiervan skryf
Paulus in 1 Korintiërs 15:52-54.
Sit aan en vier fees saam met die God van die heelal,
en sy kinders!

Ernest