2 Korintiërs 6:14 sê: “Moenie met ongelowiges in dieselfde
juk trek nie. Hoe kan daar vennootskap wees tussen reg en
onreg? Hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis?”

Voordat ons hierdie woord verkeerd verstaan moet ons weet:
dit beteken nie dat jy sondaars ten alle koste moet vermy nie.
Ons kan nie onsself in werklikheids-vreemde godsdienstige
vestings verskans nie. Dit beteken ook nie dat jy geen ongelowige
vriende mag hê nie. Inteendeel. Dit is juis daar waar jy sout en lig
en suurdeeg moet wees!

Paulus bedoel met hierdie woord dat jy nie moet doen wat hulle
doen nie. Laat jou leefstyl anders wees. Laat jou lewe ‘n getuienis
vir die Here wees. Leef heilig en aan God toegewy in alle mense
se teenwoordigheid. Leef reg voor Hom. Leef God-vrugtig sodat
jou gelowige en ongelowige vriende kan sien hoe die lewe van
‘n kind van God lyk.

Draai jou rug op die verkeerde waarheen hulle jou moontlik wil lei.
Hoe kan jy agter verdwaaldes aanstap as jy self die pad soek?
As ander mense nie die pad ken nie, hoe kan hulle jou die pad wys?
Ongelowiges is in hierdie opsig verdwaaldes. Hulle loop hulle vas in
elke moontlike sonde, omdat hulle dit nie vermy en die duiwel
weerstaan nie.

Efesiërs 4:27: “Moenie die duiwel vatkans gee nie.” Ons hang nie
uit in die geselskap van ongelowiges net om hulle guns te wen of
“in” te wees nie. Dan sal ons begin doen wat hulle doen.
Daarom is en bly ons kinders van God wat ons invloed uitoefen
deur die Gees wat in ons woon. Ons lei “hulle”!
Staan sterk in die krag van die Here!

Ernest