Die spreekwoord sê “die waarheid maak seer”.
Dikwels maak dit die een wat die waarheid praat
nóg seerder as wat dit die aanhoorders van die
waarheid maak.
Miga het dit beleef in 2 Kronieke 18. Hy vertel
padlangs die waarheid vir koning Josafat en koning
Agab wat op pad was na die oorlogsveld.
Vier honderd profete van Israel het vir Agab voorgesê
dat hy kan gaan veg. Die oorwinning wag op hom,
volgens hoofstuk 18:5. Net een profeet was nie daar nie.
En dit was Miga. Toe hy op die toneel verskyn het hy ook
aanvanklik gesê die koning kan maar gaan oorlog maak.
Verse 12-14.
Agab was nie hiermee tevrede nie en het Miga beveel om
die volle storie te vertel. Die koning hoor wat hy nie wou
hoor nie. Hy moet nié gaan veg nie. Miga het ‘n gesig
gesien waarin die Gees gesê het Hy sal ‘n leuengees na Agab
toe stuur wat sal sê dat Agab die oorwinning sal behaal,
juis sodat Agab op die slagveld sal sterf!
Soos ‘n lokval van ‘n leuen. Verse 17-22.
Nou die slegte...As beloning vir Miga se eerlikheid is hy
opgesluit. En Agab het na die slagveld vertrek...
waar hy toe gesterf het. Die waarheid maak inderdaad seer.
Dit is soms ‘n risiko, ‘n groot risiko, om jou met God se
waarheid besig te hou. Dit is dikwels baie makliker om wit
leuens te vertel en stories op te maak. Of om eenvoudig
net stil te bly. Dit is maklik om jou uit die moeilikheid uit te jok.
Gelowiges begin naderhand net so maklik leuens vertel as die res.
Hoe gebruik of misbruik jy die waarheid?
Staan jy deur alles by God se waarheid.
Maak nie saak wat ookal nie. Ons moet weet
die waarheid gaan ons dalk “kos”, maar op die einde
is die Here se waarheid oneindig belangriker as enige ander pad...
Ernest