Koning Josafat van Juda het toegewy aan die Here geleef.
Daarom het hy ook die grootste vrymoedigheid gehad om
tot die Here te nader toe hy ‘n groot bedreiging in die gesig
gestaar het. Hy het God se teenwoordigheid opgesoek toe
‘n reuse oormag teen hom opgestaan het.
Josafat het geweet hy kan nie staande bly sonder God se
hulp nie. Hy het in die tempel in Jerusalem voor God gaan
neerbuig.
Hy het God gesmeek om hulle te help teen die oormag.
Hy het ook so vir sy volk in die bres getree by God.
Die res van die volk was ook daar om voor God te kom kniel.
Wat ‘n voorreg om so ‘n leier en koning te kan volg.
Direk na hierdie toewyding-geleentheid het Josafat na die
gevegsfront vertrek. Let op wat gebeur dan, iets onverwags.
Josafat het sangers voor sy soldate laat stelling inneem.
Met hulle amptelike klere en al. Op die einste oomblik toe
hulle God begin loof en Hom in gebed aanroep te midde van
die stryd, het God die oorwinning aan hulle gegee oor hulle
vyande! Dit was uiteindelik so ‘n reuse oorwinning dat Josafat
se soldate drie dae lank oorlogsbuit opgetel het! Op dag vier
het hulle by die Lofdal saamgetrek om alle eer en dank aan
God te bring.
God se geveg lyk anders as die van die wêreld.
God se oorwinnings gebeur dikwels op onortodokse maniere.
Dit is nie afhanklik van hoe ons veg en dink nie. Hierdie soldate
en hulle gevegstrategie is so ‘n voorbeeld. Dit het sangers en
bidders ingesluit.
Vandag nog is lof en aanbidding deel van ons oorlogvoering
in die geestelike stryd waarin ons in hierdie wêreld is.
Net soos in hierdie veldslag van Josafat en sy volk, moet ons
vandag nog weet dat oproepe om God te aanbid en die belydenis
dat daar aan God se liefde geen einde is nie, steeds die grootste
oorwinnings in die wêreld behaal. Nie veldslagte, of kernbomme
nie. Ons lof, getuienis en aanbidding van God lei steeds tot die
grootste Goddelike deurbrake.
God se volk bly ‘n lof-singende en biddende weermag in hierdie
wêreld! Neem elke dag jou plek in en trek die wapenrusting van
God aan, volgens Efesiërs 6:10-18.
Vers 18 sê “doen dit alles biddend...” Bid saam en sien die
vyandige magte op die vlug slaan. Sien hoe reuse oormagte
wegkrimp voor die Allerhoogste!
Ernest