Om te wag is deel van ons geloof.
Met die koms en geboorte van Jesus sien ons
dit ook in die lewe van ‘n Joodse priester met
die naam van Sagaria.
Lukas 1:5-7 beskryf dit so: “Dit het alles begin
by ‘n Joodse priester , Sagaria, gedurende die
tyd toe Herodes koning van Judea was.
Sagaria en Elisabet het reg gelewe voor God:
hulle het al die Here se bevele en voorskrifte
nagekom. Hulle het nie kinders gehad nie omdat
Elisabet onvrugbaar was en hulle albei al oud was.”
Sagaria was deel van ‘n volk wat al oor die 400 jaar
gewag het dat God weer met hulle moet praat.
Kan jy jou dit indink? Hoeveel keer moes hy nie
seker aan die volk verduidelik dat God weer met hulle
sal praat nie...
En, hy het ook gewag op ‘n kind. By Sagaria leer ons
dat wag deel is van geloof. By hom leer ons dat wag
die reël is, eerder as die uitsondering op die reël.
Maar die wag is die moeite werd. Jy wag op God en
Hy stel jou nooit teleur nie. Sagaria het dit eerstehands
beleef toe hy klein Johannes in sy arms gehou het.
Hy het dit ook konkreet beleef met die geboorte van Jesus.
As priester kon Sagaria seker maklik gepraat het oor God
se wonders, maar om dit vir sy eie lewe te glo was ‘n ander
storie. Ons moet ook leer om te wag op God.
So sal ons sy wonders beleef en sien!
Ernest