Ons moet soos Maria leer om op te kyk en te besef
dat God groter is as wat ons ooit kan dink. Ons raak
ook dikwels benoud, soos ‘n Maria, en wonder of God
iets kan doen. Ons weet dit “akademies” dat Hy kan,
maar leef dit nie in praktyk nie.
In Lukas 1:34 lees ons: “Maria vra toe benoud vir Gabriël:
“Maar hoe is so iets moontlik? Ek het nog nooit eens by
‘n man geslaap nie.” In vers 37 antwoord die engel:
“Jy sien, niks is vir God onmoontlik nie.” Maria sê toe in
vers 38: “Ek is in die Here se hand. Sy wil moet in my lewe
geskied. Laat alles met my gebeur presies soos u gesê het.”
Dink net daaroor: as ons net in die Nuwe Testament al die
“onmoontlike” dinge sou kon uitskeur, sal daar nie veel van
die Nuwe Testament oorbly nie! Die Christendom is gebaseer
op die onmoontlikes! Die geboorte van Jesus uit ‘n maagd,
is net so ‘n groot wonder as die opstanding van Jesus uit die
dood.
Maria het besef niks is vir God onmoontlik nie, en sy het dit
geglo, en Jesus is uit haar gebore. God gebruik die onmoontlike
om ons wakker te skud om Hom te sien! Paul Tillich het gesê:
“Alles wat ons oor God wil beredeneer, is vlak – God is die diepte
van rykdom, wysheid, kennis. Ons is soos kleuters voor Hom.”
Ons moet regtig soos ‘n kleuter kind voor God gaan staan en glo
soos ‘n kind, sonder voorbehoud en die beperking van ons eie begrip.
William Barclay het hierdie belangrike woorde gesê oor Maria:
“Mary had learned to forget the world’s most common prayer –
“Thy will be changed” – and prayed the world’s greatest prayer –
“Thy will be done.”
Mag ons ook die lewens-veranderende belewenis,
oortuiging en geloof hê oor die grootheid van God,
en dat niks vir Hom onmoontlik is nie!
Ernest