Ons sê dit so maklik... “God is groot!”
Besef ons werklik hoé groot!?
Maria het ook nuwe insig gekry in die almag
van God. Kan jy dink hoe sy dit moes beleef
hoe sy ‘n kind in haar voel groei en sien hoe
sy self groei. Dié Kind! Terwyl sy wéét sy het
nooit gemeenskap met ‘n man gehad nie!
Die onmoontlike, moontlik by God!
Sy was verwonderd oor God.
In Lukas 1:46 sing sy: “Ek besing die grootheid
van die Here, ek juig oor God, my Verlosser.”
In verse 48-49 sing sy “...omdat Hy na my in my
geringheid omgesien het, omdat Hy wat magtig is,
groot dinge aan my gedoen het. Heilig is sy Naam!”
Ons is só klein en God is só groot!
William Bebe, ‘n wetenskaplike, het saam met die
oud-president van die VSA, Teddy Roosevelt, na die
sterre gekyk deur ‘n teleskoop. Bebe het vir hom gesê:
“Die dowwe ligkolletjie in die linker hoek is so groot
soos ons hele Melkweg...Dit is een van ‘n honderd-
miljoen dergelike melkwegstelsels. Dit is 750 000
ligjare van die aarde af...” Roosevelt het eenvoudig gesê:
“Staak dit Bebe, ons is klein genoeg...”
Kleiner as wat ons ooit kan dink, voor die grote God.
Maria se lied staan bekend as die “Magnificat”.
Die lied bestaan uit twee dele. Die eerste druk Maria se
lof uit oor God se genade aan haar – verse 47-50.
Verse 51-55 druk haar lof uit oor God se groot dade aan
Israel.
Maria sou die enigste persoon wees wat van krip tot kruis
by Jesus sou wees...hoe groot is God vir haar!
En vir ons. Met die Woord van God in ons hand is ons ook
van krip tot kruis by Jesus, of eerder, Hy by ons.
En die opstanding, en die wederkoms...
Hoe groot is God vir ons!
Ernest