Die Kersverhaal begin in die wêreld van die groot
magshebbers. Keiser Augustus en sy goeweneurs.
Dit is die mense met mag wat beheer oor alles en
almal gehad het. Voor hulle moes almal op een of
ander manier swig en buig. Lukas 2:1-3:
“In daardie tyd het Augustus, die Romeinse keiser,
‘n bevel uitgereik dat ‘n sensus gehou moet word.
Hierdie sensus het plaasgevind toe Sirenius die
Roemeinse goeweneur van Sirië was. Almal moes
in daardie tyd na hulle geboorteplek toe gaan om
hulle daar te laat registreer.”

Lukas sê iets daarvan dat God juis in hierdie
maghebbers se wêreld kom geskiedenis maak,
want dit is sy wêreld, en nie hulle wêreld nie.
God is by elke detail van die wêreld se geskiedenis
betrokke, of mense dit wil weet of nie. Hierdie eerste
twee verse in Lukas 2 bevestig dit ook.
Dit is ironies dat die aardse maghebbers dit nie besef nie,
of ontken en nie daarvolgens wil leef nie.
Mag maak mense magsdronk en hulle tree onmenslik op.
God is nie ‘n storieboek God nie, maar die lewende God
wat elke dag geskiedenis maak. Glo jy dit?
Vir die Romeine was Jesus net ‘n nommer. Volgens hulle
sensus sou Hy net nog ‘n baba wees. En dit van een van
die agterlike Romeinse provinsies in die Romeinse ryk.
Net nog ‘n Jood met ‘n baie algemene Joodse naam. Jesus.
Vandag is Jesus die Naam bo alle name!

In die British Museum is daar ‘n ou landkaart uit die
sestiende eeu. Die onbekende tekenaar daarvan het
allerhande vreesaanjaende bedreigings op die kaart
aangebring. Hy het orals op die kaart geskryf:
Hier is reuse skerpioene, hier is drake...
‘n Tyd lank het die wetenskaplike Sir John Franklin
die kaart besit. Hy het al die vreesaanjaende aanduidings
uitgekrap en regoor die kaart geskryf: “Hier is God!”
Dit is wat Lukas ook in hierdie verse sê. God is hier!
Moet dit nooit vergeet nie. Te midde van alles en almal.
Dit is God se wêreld!

Ernest