Lukas 2:6-7: “Terwyl hulle daar was, het die tyd
aangebreek dat haar kind gebore moes word.
Sy het geboorte gegee aan haar eerste Kind,
‘n seun. Sy het Hom in doeke toegedraai en in
‘n krip neergelê omdat daar vir hulle geen plek
in die herberg was nie.”

God het as ‘n baba na ons gekom, en nie as
‘n Keiser nie. Hy is in ‘n krip neergelê omdat
niemand besef het God besoek die aarde nie.
Wie sou God tog ooit as ‘n baba verwag?
Niks het die afgelope 2000 jaar verander nie.
Ons sal God nog steeds op so baie plekke misloop
omdat ons Hom anders verwag. Ons kyk Hom so
dikwels mis in die persoon wat voor ons staan,
wat na sy beeld geskep is, en in wie God deur
sy Gees woon...

Harry Boer sê die punt van Kersfees is dat aan die
eenvoudigste siel vertel word dat God hom of haar
liefhet. Dit sê aan ons dat God identifiseer met ons
probleme, seer, hoop en vreugde. Nie omdat Hy ons
gemaak het of omdat Hy alwetend is nie, maar omdat
God ons liefhet en as eenvoudige mens na ons gekom
het. Lukas 2:11: “Vandag is die Redder in die stad van
Dawid gebore; vir almal van julle.” Ook vir jou!

Vers 14 sê verder: “Eer aan God. En vrede vir almal oor
wie God nou feesvier.” Dit is treffende woorde! Onthou,
daar sal ‘n rewolusie in jou lewe gebeur –
vrede sal oor jou neerdaal as jy besef dat dit nie soseer
jou liefde vir God is wat tel nie,
maar die feit dat God jou liefhet!

Ernest