Lukas 2:34-35: “Toe het Simeon hulle geseën en
vir Maria gesê:
“Hierdie Kind sal deur baie in Israel verwerp word,
tot hulle eie nadeel. Maar Hy sal die grootste vreugde
wees vir baie ander. So sal die diepste gedagtes van
baie harte bekend word. Maar wat jou betref – daar
sal ‘n swaard deur jou siel gaan.”
God gebruik enige mens. Hier is ‘n ou man wat deur
God gebruik word. Simeon. Ons egte waarde lê in God
se hand. In God se hart. So neem God vir Simeon in sy
hand en gebruik hom om vir Maria van moeilike uitdagings
te vertel wat in haar lewe sou kom. Simeon se gebed was
‘n herinnering dat net God betekenis aan jou lewe kan gee.
Simeon bid vreugdevol tot God dat hy onbeskryflike vrede
in sy lewe ervaar noudat hy Jesus in sy arms kon neem.
Die “swaard deur Maria se siel” het al vroeg begin.
Toe Herodus agterkom hy is deur die geleerdes uit die Ooste
in die steek gelaat, het hy alle seuntjies jonger as twee jaar
laat doodmaak. Dit moes skrikwekkend wees vir Maria.
Maar Frederick Büchner het dit raak beskryf:
“For all Herod’s enormous power, he knew there was somebody
in diapers more powerful still.” Helaas het Herodus ook gesterf.
Matteus 2:19-20 sê betekenisvol: “Na die dood van Herodus het
die engel van die Here weer in ‘n droom met Josef in Egipte gepraat.
Hy het vir hom gesê: “Word dadelik wakker! Vat vir Jesus en sy ma
en gaan terug na Israel toe. Almal wat Hom wou doodmaak, is nou
self ook dood.” Lees net weer: “...Almal wat Hom wou doodmaak,
is nou self ook dood.” Dit is vandag nog so. Herodus het ‘n negatiewe
effek op baie mense se lewe gehad. Maar die Een wat hy wou
doodmaak, Jesus, het lank nadat Herodus dood is, en tot in ewigheid,
nog steeds lewegewende invloed op mense.
Josef moes na die engel van die Here se boodskap veral drie dinge weet:
Hy het geweet dit maak nie saak hoe sleg dinge raak nie, God is by ons.
Hy het ook geweet dat hierdie Jesus verseker die enigste Redder van die
wêreld is.
Hy het verder geweet dat geloof beteken jy kan God onvoorwaardelik
vertrou, met egte hoop vir die toekoms.
Net God gee betekenis aan jou lewe.
Ernest