Dit maak nie saak hoe oud of jonk jy is nie,
dit maak nie saak hoeveel keer jy al die storie
van God gehoor het nie, God roep jou nog altyd
om een of ander vars spoor van Hom te volg!
Jy kan meer wysheid ontvang as jy elke dag nader
aan God leef. Daar is geen kortpaaie na geestelike
volwassenheid nie. Heiligheid verg tyd en toewyding.
In hierdie opsig is die woorde oor Jesus se lewe in
Lukas 2:52 lewensbelangrik en insiggewend:
“En so het Jesus grootgeword en in wysheid toegeneem;
en Hy was geliefd by God en almal wat Hom geken het.”
Hierdie waarheid van hierdie vers moet ons almal se
lewenslange doelwit wees. Ons kan nooit ophou groei nie.
Vra jouself die vraag af: hoe lyk my lewe in hierdie opsig?
Dit is lewensbelangrik. Waar wil jy nou wees?
Waar wil jy wees “aan die einde van jou lewe”?
Begin deur eerstens dieper in die Woord van God te wandel.
Tweedens: wandel wyer, met invloed, in God se wêreld.
Wees waarlik sout en lig en suurdeeg vir die Here in hierdie
wêreld. Dit is sý wêreld. Dit is sy skepping. Sy mense.
Deur soos Jesus in hierdie wêreld te leef word jy die persoon
wat God bedoel het jy moet wees.
Jakobus 1:5 sê: As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit
van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal
sonder voorbehoud en sonder verwyt.”
Ons ontplof van al die kennis in die wêreld. Maar...
Billy Graham het gesê: “Kennis is horisontaal. Jy kan dit uitbrei
deur na alle kante meer en meer te leer; maar wysheid is vertikaal.
Dit is ‘n geskenk van Bo, van God, wat jy in antwoord op gebed
ontvang.” Lukas 2:52: “En so het Jesus...in wysheid toegeneem;...”
Laat God jou verander deur jou denke te vernuwe! – Romeine 12:2.
Ernest