Planne kan dikwels onvoorsiens en radikaal verander in
ons lewe. Dink maar aan Josef en Maria wat Betlehem
toe is om sensus “vorms” in te vul. Hulle het seker lig
gereis want hulle sou net daarna terugkeer na hul huis
in Nasaret.
Maar met die geboorte van Jesus verander alles in hulle lewe.
Terloops, dit gebeur ook wanneer Jesus in ons lewe kom woon.
Niks is ooit weer dieselfde nie. Hoe moes Josef gevoel het oor
die voortdurende verandering van planne na Jesus se geboorte?
Die belangrikste is: Hy kom nie in opstand teenoor God nie.
Hy skyf sy eie belange eenkant toe, en hy is gehoorsaam aan die
opdrag van God. Hy doen presies wat God van hom vra. Hy is nie
haastig om in Nasaret te kom om in sy timmer-werkswinkel te gaan
werk of “geld te maak” nie. Hy is rustig oor planne wat oornag
verander, want hy weet God is in beheer, en dit wat nou gebeur is
die grootste van alles!
Dit is wysheid. Dit is ‘n teken van volle vertroue in God en dat Hy
sy beloftes sal waarmaak. Waar is groter wysheid as dit? Om God
met jou hele lewe te vertrou! Dink daaraan, die engel sê duidelik in
Matteus 2:20 vir Josef: “Word dadelik wakker! Vat vir Jesus en sy ma
en gaan terug na Israel toe. Almal wat Hom wou doodmaak is nou
self ook dood.” Maar wat van die koning se seun wat nou by hom
oorgeneem het? Is dit nie nog ‘n swaard wat nou weer oor Jesus se
kop hang nie? Tog hou Josef sy oog op God wat duidelik die opdrag
deur die engel gegee het. As God gesê het almal wat Hom wou
doodmaak is nou dood, dan is dit so! Josef weet dat God by hom en
sy gesin is. God sal hulle bewaar soos Hy tot nou gedoen het.
Hoekom sal God dit nou die volgende keer nie doen nie?
Dit is ook die vraag wat ons dikwels moet vra: Hoekom sal God dit
nie doen nie as Hy nog my hele lewe getrou vir my gesorg het en my
bewaar het? Ons moet ons lewe en emosies in lyn kry met God se wil,
en getrouheid, en voorsiening, en sorg vir ons.
Wanneer dinge skielik in ons lewe radikaal verander is dit nie God en
sy trou en beloftes wat verander nie!
Die jaar het byna uitgeloop. In die afgelope jaar is ons planne dikwels
omvergegooi. Dit gaan ook in die nuwe jaar gebeur. Ons gaan wysheid
van God kort om daarmee saam te leef. Wat is groter wysheid as dit:
Om God ten volle met jou hele lewe te vertrou! Plaas ook jou eie planne
in God se hand en vra dat Hy dit wysig as dit nie tot sy eer of volgens sy
wil is nie. Vertrou Hom dan met dit wat moet gebeur!
Wysheid is nodig. Bid dit van God!
Ernest