Daar is seker min dinge wat so ontstellend is as ‘n kind
wat wegraak. Ouers en mense rondom hulle raak gewoonlik
dadelik paniekbevange. Ons dink ook dadelik aan die ergste
wat kan gebeur. Ons gaan deur groot skok. Die krisis is so groot
dat ons gedagtes rondmaal en ons selfs nie helder dink nie.
Dit raak beplande chaos om alle moontlikhede so gou moontlik
te hanteer.

Jesus het ook as ‘n klein kind weggeraak. Dit was met Paasfees.
Josef, Maria en familie het opgetrek Paasfees toe. Op pad terug
van Jerusalem af kom hulle agter Jesus is weg! Weggeraak!
Kan jy dink wat gaan deur hulle gedagtes. Hoe moes hulle nie
dikwels by God se planne inval om Jesus veilig te hou nie.
Nou is Hy weg! Hulle is dadelik terug Jerusalem toe. Jy kan jou
die prentjie voorstel. Hulle reageer soos enige goeie ouers wat
hulle kind liefhet. Kyk net na Maria en Josef se reaksie.
Lukas 2:46 sê hulle het drie dae lank na Jesus gesoek. En dan
reageer hulle met vers 48 wanneer hulle Hom by die tempel kry:
“Toe Maria en Josef vir Jesus daar sien, was hulle baie omgekrap.
Maria het dadelik vir Hom gesê: “Hoe kon jy so iets aan ons doen?
Ons is al dood van bekommernis oor jou. Dae lank soek ons oral
na jou.” Hulle het seker gedink Jesus het nie ‘n idee wat Hy aan
hulle gedoen het nie. Vers 49 sê: “Maar Jesus het geantwoord:
“Waarom het u na My gesoek? U weet mos dat Ek in die huis van
my Vader moet wees.”

Maria en Josef het duidelik nie toe al die groter prentjie gesien
of verstaan nie. Dit gebeur ook met ons. Ons kyk met so min insig
en wysheid na wat God doen. En dan hardloop ons koppe in alle
rigtings en ons dink net aan die ergste moontlike gevolge. Ons kan
vir lang tye so loop en worstel met ons eie beperkte insig en wysheid.
Dan was dit dikwels alles verniet. Ons sien dikwels nie die groter
prentjie raak nie. Ons kyk nie met geloof nie. Ons is sommer gou
kleingelowig oor die toekoms, en uitkomste, en dit wat God kan doen.

Ons moet leer om onsself aan die geloof in God oor te laat!
Geloof in God se plan met ons lewe. Geloof in die feit dat God in
beheer is van die groter prentjie. In beheer is van die heelal! Ons kan
nie alles sien en verstaan nie. Laat dit in geloof aan God oor. Neem jou
hele lewe na God toe. Hy weet alles en sien alles.
Glo jy dit? Doen dit dan! Maak jou hart heeltemal oop voor God oor
al jou vrese, onsekerhede, oor die toekoms.
Jy is regtig volledig in God se hand. In sy hart!

Ernest