God het Johannes die Doper met ‘n spesifieke roeping
aarde toe gestuur. Ons hoor dit in Johannes se boodskap
aan die wêreld: maak die pad gereed. Iets groot is op die
punt om te gebeur. Hier kom ‘n Redder wat die wêreld
onherroeplik gaan verander.

Ons weet Johannes die Doper het nie lekker by die
samelewing ingepas nie. Die mense het selfs oor hom gespot.
Hy het egter nie een oomblik teruggedeins of van sy boodskap
afgewyk nie. Hy het deurlopend vir almal wat daar verbygegaan
het uitgeroep: Die Messias is op pad! Johannes 1:6-7:
“Johannes het ook op die toneel verskyn. God het hom gestuur
om vir almal te kom vertel van Jesus wat soos ‘n helder lig in die
donker kom skyn het. Sy sterk boodskap oor die Lig moes mense
oortuig om in die Lig te glo.”

Die priesters en profete het al honderde jare tevore voorspel
dat die Verlosser gaan kom. God help die mense om dit te besef
wanneer Jesus kom, en stuur Johannes die Doper as ‘n gesant
om dit aan te kondig. Die mense het al so gewoond geraak om
in die donker te lewe dat hulle dit nie eers meer agtergekom
het nie. Nou is Jesus hier, om ook die swaar juk van die Wet van
hulle skouers af te haal.

Johannes die Doper het seker die mees fantastiese nuus in die
geskiedenis van die mens aangekondig. Met ‘n ingrypende en
direkte boodskap. Hy kom die wêreld voorberei op die mees
ingrypende en lewensveranderende gebeurtenis ooit.
Sommiges het hom geglo. Die meeste het hulle egter nie aan
hom gesteur nie. Johannes 1:11 sê: “Eienaardig genoeg het die
mense van die wêreld Hom nie herken toe Hy gekom het nie.
Om die waarheid te sê, Hy het onder sy eie mense beweeg en
opgetree, maar hulle het Hom selfs nie erken nie en wou nie glo
wie Hy regtig is nie.”

Het jy al by die Lig verby begin leef. Gaan staan net ‘n oomblik stil,
vir hierdie lewensbelangrike vraag in jou lewe op hierdie oomblik:
Hérken jy Jesus wat met jou praat en lig bring in jou lewe,
en érken jy Hom as die Here van jou lewe, die God van die heelal?
Gaan leef nou op hierdie pad en maak ook die pad vir ander gereed
om daarop te lewe. Met jou eie lewe!

Ernest