Ons sal nooit ooit die impak van Jesus se koms
na die aarde kan verreken nie.
Die probleem is, hoe kan jy dit in terme vir mense
beskryf wat hulle regtig kan laat besef hoe groot
die koms van Jesus na die wêreld is?

Johannes het iets hiervan probeer sê, en dit sê reeds
so oneindig baie! Johannes 1:14 in Die Boodskap:
“Jesus het toe as mens aarde toe gekom. ‘n Mens kan
sê Hy het onder ons kom huis opsit. Ons het gesien hoe
belangrik en wonderlik Hy is. Net die unieke Seun van
die Vader is so groot en belangrik. Hy was soos ‘n fontein
van die goeie dinge wat God vir ons so onverdiend wil gee.
By Hom kon ons ontdek wat regtig waar en eg is.” Wow!
“Hy was soos ‘n fontein van die goeie dinge wat God vir ons
so onverdiend wil gee.” Genade op genade uit God se liefde,
vir ons!

Ons moet met alles in ons vashou aan hierdie woorde van
Johannes oor God se bedoeling vir ons. Dit is dat Hy sy genade
oor ons wil laat reën soos ‘n fontein wat nie ophou loop nie.
Hy wil sy genade oor ons uitstort. Hy wil die waarheid,
dit wat regtig saak maak in die lewe, vir ons kom bekendmaak
deur Jesus.

In die lig van die pas afgelope Kersfees, lees net hierdie woorde
van vers 16: “Hy het ‘n oorvloed van geskenke van God af wat Hy
vir ons wil gee. Daar is geen keer aan al die goeie dinge wat God
vir ons gee nie, al verdien ons dit nie.”
Dink net eers ‘n bietjie hieroor na...

Die tyd is nou reg, hier voor die nuwe jaar. Neem God se hand wat
Hy na jou uitsteek. Hy wil hê jy moet saam met Hom deur die strate
van hierdie lewe leef. Hy wil jou gebruik om aan ander uit te deel
wat jy ontvang. Die tyd is nou reg. Maak elke dag tyd om by die Seun
van God uit te kom. Leer by Hom die waarheid, hoe om te leef,
wat belangrik is. Groei in wysheid. Laat toe dat Hy jou daagliks
verander en vernuwe!

Ernest