Op die vraag “wat sou jy wou hê vir die nuwe jaar?”,
wat is jou behoeftes en begeertes?,...sou baie van ons
vroom antwoord: “Jesus is genoeg”.
Die vraag is egter verder: Waarvoor? Waarvoor wil jy
Jesus in die nuwe jaar hê? Ons sê Jesus is genoeg. Regtig?!

Maar was dit nie altyd die geval in my lewe nie? Of was dit?
Vir ‘n lang tyd het ek gedink Jesus is genoeg. Toe kom ek op
‘n dag agter dat ek Hom eintlik nodiger het vir al die dinge
wat Hy vir mý moet doen, eerder as wat ek Hóm as Persoon
alleen nodig het en dat Hý my lewe is.
Daar is ‘n baie groot verskil.
Wanneer Jesus genoeg is vir alles wat Hy vir mý moet doen,
dat gaan dit oor mý. Wanneer Jesus egter genoeg is omdat
Hy Self my lewe is, dan gaan dit oor Hóm!

Dink bietjie. Onder andere het ek die ewige lewe nodig gehad,
toe gee Hy dit vir my. Ook het ek Iemand nodig gehad wat vir
my krag moes gee, toe gee Hy dit vir my. So moes Jesus in al my
behoeftes en begeertes voorsien. Geestelike en fisiese behoeftes.
Dit is alles goeie begeertes. Soos om hemel toe te gaan, gesond
te wees, reg te leef, bruikbaar vir God te wees. Opsigself is al
hierdie behoeftes en begeertes goed. En reg. Die probleem is
egter dat ek op die goed fokus wat Jesus vir mý moet beteken,
vir mý moet gee, en vir mý moet doen. Die probleem is dat ek
nié besef het dat ek vir Jesus alléén nodig het nie, en slégs na
sý heilige teenwoordigheid moet verlang nie.

Diep binne in ons wil ons gedurig hê die Here moet in al óns
behoeftes voorsien. Ook die geestelike behoeftes en begeertes.
En uiteindelik is ek behoefte gedrewe wat my geloof betref.
Ek het net ‘n godsdienstige verbruiker geraak...
So lank as wat Jesus alles vir my gee waarvoor ek bid,
dan is ek geestelik op ‘n goeie plek. Gelukkig en dankbaar.
So dink en beleef ek dit.

Maar is dit waar God my wil hê? Dat Hy heeltyd vir my geestelike
en fisiese voorspoed moet gee? Dat my gebede en my lewe in ‘n
geestelike “comfort-zone” is?
Dink aan Jesus in die tuin van Getsemane. Is Hy op ‘n gemaklike
Plek, in ‘n gemaksone? Nee! Is sy gebed verhoor na sy eerste
behoefte dat die beker van lyding moet verbygaan? Nee!
Maar Hy is presies waar God Hom wil hê. Daar waar dit oor God
gaan en sy verlossingsplan vir die wêreld.

Waar wil jy wees in die nuwe jaar? Die baie belangriker vraag is:
Waar wil God jou hê in die nuwe jaar? Die eerste vraag gaan oor jou,
die tweede gaan oor God in Christus in jou lewe.
Neem hierdie les van ‘n leeftyd saam met jou in hierdie nuwe jaar:
As die Here self as Persoon nie vir jou genoeg is nie,
sal jy nie geestelik groei nie. Anders gestel:
geestelike groei, en die plek waar God my wil hê, is om weg te skuif
vanaf alles wat God vir mý moet doen, na God Self, wat altyd en oral
vir my genoeg is!
Om saam met Paulus te bely: Om te lewe is vir my Christus! – Fil. 1:21.
Hy is my lewe, my hoop, my vrede, my blydskap, my álles!
JESUS ALLEEN IS GENOEG VIR 2020.

Ernest