Johannes die Doper se bediening in die woestyn het vinnig
gegroei en golwe gemaak. Gou is die kerkmense uit hul
gemaksones geskud. Tot so ‘n mate dat die “kerk” van
daardie tyd verspieders uitstuur om te kyk wat daar by
Johannes die Doper aangaan. Almal praat van sy boodskap!
Die afvaardiging priesters en Leviete gaan pak hom toe en
vra hom reguit: Wie is jy? Elia? ‘n Spesiale boodskapper?
Johannes antwoord op al die vrae met ‘n nee. Hy het seker
gewonder hoe hul oë as “kerkmense” so blind kan wees vir
die groot koms van die Messias? Die afvaardiging kry nie ‘n
antwoord uit Johannes nie en vra later in Johannes 1:22:
“...Asseblief tog, sê vir ons wie jy is. Ons kan nie sonder ‘n
antwoord teruggaan na die mense toe wat ons gestuur het
nie. As jy nou self voor hulle kon staan en vir hulle moes sê
wie jy is, wat sou jy sê?”
Die afvaardiging kom nie om gedoop te word en ánders daar
weg te gaan nie. Hulle kom nie met ‘n verwagting om te deel
in die wonderlike boodskap wat Johannes verkondig nie.
Hulle kom soek net iets van akademiese waarde. Iets om
hulleself en die res van die “kerkmense” mee tevrede te stel.
Wat sal ons in hierdie nuwe jaar in die Woord van God soek?
Ook net dinge van akademiese waarde om ons kennis te laat
groei? Ons sal soveel boodskappe hoor en soveel keer die
Woord lees. Sal dit ons verander?
Johannes se antwoord is eenvoudig. Die waarheid is dikwels
vir ons te eenvoudig. Ons kompliseer die Evangelie!
Johannes antwoord met vers 23 en haal aan uit die Ou Testament:
“...Ek is ‘n boodskapper wat in hierdie droë en onherbergsame plek
uitroep: “Maak ‘n pad gelyk en reguit vir die Here, want Hy is aan
die kom.” Johannes is beskeie. Hy sê niks oor die mense wat soontoe
stroom nie. Hy vertel nie van sy eie opofferings wat hy moet maak
om in die woestyn te bly nie. Alles wat hy sê en doen wys net na
die Here. Die Een wat op pad is. Hy weet dit gaan nie oor hom nie,
maar oor Hom wat aan’t kom is. Die Here.
Ons het nie afvaardigings wat ons lewe besoek en vra waarmee ons
besig is nie. Tog kom die Heilige Gees na ons hier aan die begin van
die nuwe jaar en vra: Waarmee gaan jy in hierdie jaar besig wees?
Gaan jy soos Johannes op die agtergrond wees sodat Jesus die een
is op Wie die lig gaan val? Gaan jou hele lewe heenwys na Hom wat
ook stééds komende is na hierdie wêreld.
Gaan leef in hierdie nuwe jaar met die verwagting dat die Here
nóú kom!
Ernest