Filippense 4:5 sê “…Die Here is naby.”
Hy is nie net Immanuel, God met ons nie,
maar ook God in ons deur die Heilige Gees.
Maar God is ook in ‘n ander opsig baie naby,
want die Here is komende, elke dag komende
met sy wederkoms.

Dit is een waarheid wat ons deurlopend en bewustelik
moet uitleef in hierdie nuwe jaar: Die Here is naby!
Vers 4 is dan ook baie prakties oor hoé ons hierdie
waarheid moet uitleef. “Wees inskiklik teenoor alle mense.
Die Here is naby.” Ja, jy het reg gelees. So eenvoudig en direk.
Teenoor álle mense!

Dit beteken verseker nie om maar net in te val by wat almal
doen nie. Dit is ook nie ‘n ja en amen op wat almal sê nie.
Dit is nie toegee nie, maar juis die uitleef van die wil van die Here.
Die bedoeling is dat ons onselfsugtig en verdraagsaam moet wees
teenoor alle mense. Weereens, alle mense! Ons moet nie ten alle
koste ons eie wil laat geld nie. Ons moet ‘n fyn aanvoeling hê vir
ander mense se belange, planne, idees, en visie. Vir hulle hart.
Jesus het gesê ons moet mekaar dien. Soos Hy wat sy dissipels se
voete gewas het. Filippense 2:5 sê:
“Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus
Jesus was.” Hoe is dit? Verse 3-4 sê hoe: “Moet niks uit selfsug of
eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër
ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie,
maar ook aan die van ander.”

Wanneer die Woord hier sê “die Here is naby”, beteken dit dat Hy
in die hele nuwe jaar naby jou is. Jou hele lewe is Hy nader aan jou
as wat jyself is. Leef dan bewustelik so, saam met en tussen ander
mense. Die Here is hier, tussen ons, saam met ons.
Dit sal jou anders laat optree as met selfsug en eersug. So word jy
minder en die Here, en ander mense, meer in jou lewe.
Leef deurgaans in alle verhoudings en in alle omstandighede met
hierdie waarheid as realiteit in jou lewe: Die Here is náby!

Ernest