Ons weet almal baie goed dat dinge kan skeefloop
in die beste van verhoudings. Ons het dit al ervaar.
En wanneer dit tussen geliefdes gebeur is dit die seerste seer.
Seer is deel van die lewe. En verhoudings-seer is dikwels die
seerste seer van die lewe.

Die sielkundige, Carl Gustav Jung, het al gesê: “Daar is soveel
nagte as dae, en die een is so lank soos die ander.
Selfs ‘n gelukkige lewe kan nie sonder ‘n maat van donkerte
wees nie. Die woord “gelukkig” sal sy betekenis verloor as dit
nie gebalanseer word met hartseer nie.”

Verlore liefde en verlore verhoudings maak intens seer.
Almal van ons verloor iewers ‘n geliefde, of liefde, of ‘n verhouding.
Net die Here kan jou regtig deur dit dra. Net Hy ken dan jou diepste
seer. Net Hy verstaan dan die meeste van jou worsteling, meer as
jyself.

Nou die belangrike: Sý liefde kan jy nie verloor nie!
Selfs jou geliefdes kan jou in die steek laat. Jy kan geliefdes en
verhoudings langs die pad verloor. Dit is eenvoudig hoe die lewe is.
Dit is die werklikheid. En dit is nie noodwendig jou skuld nie.
Onthou egter in letterlik alle omstandighede: Die Here is naby!
Die Here is by jou. Hy sal jou nooit in die steek laat nie.

Daarom sê Romeine 15:4 dat die Skrif ons standvastigheid en
bemoediging gee. Die vers sê juis; daarom kan ons in die grootste
seer steeds vol hoop wees. Vers 5 sê dat God die Bron van ons
bemoediging is. In die seer. So groot as wat God is, so groot is die
bemoediging wat ons kan ontvang van God af.
Want God is die Bron daarvan.

Wanneer hartseer en verlies oor jou pad sou kom in hierdie nuwe jaar,
onthou hierdie waarheid en hou dit vas, teen en in jou hart,
waar die Gees woon. Jou Trooster.

Ernest