Dis eenvoudig

Die Evangelie is eenvoudig.
Lukas 3:7 sê: “’n Groot skare het na Johannes toe gestroom
om gedoop te word. Kort voor lank was dit ‘n hele nuwe mode.”
Johannes die Doper het dit raakgesien en vir die mense gesê
hulle is skynheilig! Hulle sal nie so maklik wegkom van God se
oordeel nie. In vers 8-9 sê hy: “Julle meot reg lewe. Dra die
regte vrugte. God se oordeel is voor die deur. Hy is op pad
na julle toe soos ‘n houtkapper met ‘n groot byl in sy hand.
Hy gaan elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, uitkap en
in die verskriklike vuur van die hel gooi.”
Die mense het groot geskrik en besef hulle verhouding met
God is nie ‘n modegier of tydverdryf nie. Dit is nie net ‘n
goeie gewoonte nie. Dit gaan oor lewe en dood!
Vers 10: “Die skare het toe benoud vir Johannes gevra:
“Sê asseblief vir ons wat ons moet doen om in die regte
verhouding met God te leef.”

Nou die belangrike. Kyk hoe eenvoudig maak Johannes dit.
Soos dit moet wees. Eenvoudig. Vers 11: “Johannes sê toe:
“As julle twee stelle klere het, gee dan een vir iemand wat
niks het om aan te trek nie. Doen dieselfde met julle kos.
Deel julle kos met mense wat niks het om te eet nie.”
Johannes is nie besig om groot teologiese waarhede en vrae
oop te breek nie. Die Evangelie is eenvoudig. Hier praat
Johannes van die eenvoudige boodskap om goed te doen
aan ander mense. Moenie selfgerig leef nie.

Ook die belasting invorderaars vra dieselfde vraag.
Weer antwoord Johannes met eenvoud. Moenie meer
belasting uit mense wurg as wat hulle volgens die wet moet
betaal nie. Wees eerlik, sê Johannes vir hulle.
Ons moet eerlik wees! Eenvoudig eerlik! Ons het allerhande
redenasies oor wat reg of verkeerd is, sonde is, of nie.
Die Heilige Gees hou ons nie in die duister oor wat God se
wil is nie! God wil jou hand vat en jou lei. Maar solank jy jou
hand gereserveerd terughou en allerhande redenasies het,
sal jy nie saam met God groei nie.

Ook die weermag vra die vrae aan Johannes. Verse 14.
Weereens maak Johannes dit eenvoudig. Moenie mag
misbruik nie. Hoe behandel jy mense wat ondergeskik
is aan jou? Moenie mense te na kom nie.
En, voeg Johannes by, wees tevrede! Eenvoudig.

Al hierdie antwoorde van Johannes beklemtoon dit om
in eenvoud en opreg voor die Here te leef. Ons kan dinge
baie keer so kompliseer. Ons lees boek na boek deur oor hoe
om geestelik te groei. Ons doen studies en weet naderhand
“alles”, maar ons bly mis die eerste tree.

“Julle moet reg leef. Dra die regte vrugte.” – Luk. 3:8. Net dit.
Leef reg en dra die regte vrug. Natuurlik kry goeie werke ons
nie in die hemel nie. Dit is nie wat Johannes hier sê nie.
Wanneer dit gaan oor om hiér op aarde ‘n goeie verhouding
met God te beleef, moet ek bewustelik reg lewe, en die ware
vrug van bekering dra. Leef eenvoudig opreg voor die Here!

Ernest