Mense loop agter mense aan. Ook in die kerklike lewe is dit
ongelukkig so. Wanneer iemand bekend raak dat hy ‘n
uitstekende prediker is, loop die mense agter hom aan.
Partykeer met groot teleurstelling. Daar is dikwels geestelike
leiers wat die kollig op hulself trek, en dan net eervolle
vermelding aan die Here gee.

Johannes die Doper land in ‘n situasie waar dit kon gebeur.
Sy bediening het soos ‘n veldbrand gegroei en mense staan
tou om deur hom bedien en gedoop te word. Maar die dag
toe hulle hom méér wou maak as wat hy is, het hy dadelik
daarteen opgetree.
Lukas 3:15-16: “Johannes se woorde het die mense aangegryp.
Oral het mense onder mekaar begin vra: Is hy nie dalk die
Messias nie?” Maar hy het gou ‘n einde aan hierdie praatjies
gemaak. Hy het vir die skare gesê: “Ek doop julle nou hier in
die rivier met water. Maar ‘n baie belangrike Man is op pad
na julle toe. Hy is so belangrik dat ek nie eens werd is om soos
‘n slaaf sy skoenveters los te maak nie. Weet julle, Hy sal nie
water gebruik om julle mee te doop nie. Nee, Hy sal julle met
die Heilige Gees doop. Hy sal ‘n vuur in julle lewens aansteek
wat julle lewens van binne af sal skoonmaak.”

Johannes gee hulle nie die geringste kans om hom belangriker
te maak as wat hy is nie. Hy is net ‘n gewone mens wat die opdrag
uitvoer wat die Here gegee het. Die Een oor Wie dit eintlik gaan
is op pad. Jesus moet gevolg word. Nie Johannes nie!
Terwyl Johannes sy posisie vir die mense duidelik maak gebruik
hy ook sommer die kans om weer vir hulle te sê wat Jesus kom
doen! Hy gaan die koring van die kaf skei. Vir almal wat in Hom
glo en na Hom luister, sal Hy ‘n plek gee in God se splinternuwe
wêreld. Johannes vertel nie net wat Jesus kom doen nie, maar
rus hulle ook toe. Hy sê hoé hulle moet lewe.

Ons moet kritiese vrae aan onsself vra oor wie ons regtig volg.
Mense volg dikwels geestelike leiers, maar hul lewe bly maar
eintlik dieselfde. As die leier skuif, skuif hulle saam. Maar min
verander in hul eie lewe. Wanneer jy egter vir Jesus volg,
verander jou lewe radikaal en dit bly verander. Jy word al minder,
en Jesus al meer in jou lewe. Jy word al minder en ander mense
word al meer in jou lewe. Soos Johannes sê:
Ek moet al minder word, en Jesus moet al meer word...
Wie volg jy, regtig?

Ernest