Johannes die Doper verkondig die boodskap van die Here
sonder om terug te deins of doekies om te draai. Maak nie
saak hoé belangrik mense kan dink hulle is, of wat die gevolge
van sy prediking ookal mag wees nie. Dit sou hom sy lewe kos.
Sy gehoorsaamheid aan God en sy weiering om kompromieë
aan te gaan ten opsigte van die boodskap van God.
Johannes is regtig ‘n voorbeeld vir ons. Ons gaan so maklik
kompromieë aan in terme van God se boodskap. Ons val so
maklik maar in by wat die wêreld doen. Ons leef as’t ware met
‘n situasie-etiek, waar die situasie eerder bepaal wat ons doen
of sê, as wat God se Woord dit bepaal. Kyk wat gebeur met
Johannes. Lukas 3:19-20: “Op ‘n dag het Johannes vir Herodus,
die heerser van Galilea, in die openbaar gekritiseer omdat hy
sy broer Filippus se vrou, Herodias, afgevat het. Ook ‘n hele rits
ander sondes van Herodus is deur Johannes veroordeel.
Herodus was woedend hieroor. Hy het Johannes laat arresteer
en hom in die tronk opgesluit.”
Dit slaan jou teen die bors as jy onthou van Herodus se dogter
wat so mooi gedans het en die prys wat sy daarvoor by haar
stiefpa wou hê. Johannes se kop op ‘n skinkbord.
Ons kan dit nie verstaan nie. Of kan ons? Dit voel so verkeerd.
Die man van God wat sy boodskap so konsekwent uitgevoer het.
Die een wat God se wil uitgevoer het. Hoe kan dit wees dat juis
sý kop op ‘n skinkbord ingedra moet word? Wat wil God hiermee
doen? Dit laat ons ook vrae vra oor ons eie kruispaaie. Ons kan bly
vrae vra oor Johannes. Hoekom moes dit met Hom gebeur?
Die belangrikste antwoord kry ons egter by Johannes self!
Dit gaan nie oor Hom nie, maar oor God. Net oor God. Vers 18 sê
so duidelik: “Johannes het die mense aangespoor om te doen wat
God vra. God se goeie nuus het dag na dag oor sy lippe weerklink.”
Johannes was nie arrogant of ongevoelig nie. God se goeie nuus
het dag na dag oor sy lippe weerklink. Mense verwerp nie vir jóú
oor die uitdra van God se boodskap nie. Hulle verwerp God se
boodskap. Herodus het God verwerp.
Vir Johannes het dit eenvoudig oor God gegaan en hy was bereid
om sy lewe daarvoor te gee! Dit gaan ook nie oor my nie. Die vrae
wat ons gewoonlik vra wanneer ons teenspoed kry in die uitdra van
God se boodskap, of in die uitleef van God se Woord, het te doen met
die gevolge vir onsself. Ons moet eerder vra wát die gevolge vir die
koninkryk van God sal wees as ons onvoorwaardelik gehoorsaam is.
Dit gaan oor God. Nie oor my nie. Dit is die boodskap van Johannes
die Doper se lewe.
Gaan dit regtig ook vir jou in die praktyk van die lewe oor God,
en God alléén?
Ernest